MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Danabaai het sedert die nasionale Covid-19-inperking behoorlik onder misdaad deurgeloop.
Die Mossel Bay Advertiser het kommerwekkende skokkende statistiek van misdaad in die gebied wat tydens Septembermaand plaasgevind het, onder oë gehad. Die polisie wou egter nie daarop kommentaar lewer nie.
Buurtwag-voorsitter, Otto Ploog sê hulle het veral 'n styging in misdaad gesien sedert Maart vanjaar.
"Ons dink dit is omdat mense honger is. Ons vermoed ook dat baie van die voorvalle geleentheidsmisdaad is." Ploog sê hulle sukkel veral met diefstal uit motorvoertuie.
"Ons versoek inwoners om asseblief nie enige besittings op voertuigsitplekke te los nie. Dit lok misdadigers." Hy sê inwoners moet ook saans hulle gordyne toetrek.
"Baie van die misdaad gebeur wanneer skelms sien wat in inwoners se huise is, waar die rekenaars en televisies is. Saans wanneer inwoners in hulle wonings doenig is, kan misdadigers alte goed van buite af binnetoe sien."
Ploog vra inwoners om alle misdaad by die buurtwag, maar ook by die KwaNonqaba-polisie aan te meld. "Ons sit byvoorbeeld met baie meer inligting oor misdaad hier in Danabaai as wat die polisie het. Dit beteken dat dit nie aangemeld word nie. Die polisie kan ons nie help as hulle nie deeglik van die probleme bewus is nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'