TUINROETE NUUS - Dalene Matthee, befaamde skrywer, is as ’n nooi Scott op 13 Oktober 1938 in Riversdal gebore.
Bekend as een van die stoutste kinders in die dorp in daai jare, het sy wel erken dat sy twee dinge goed kon doen - opstelle skryf en klavier speel.
Sy het aan die Hoërskool Langenhoven matrikuleer. Daarna is sy na ’n musiekskool op Oudtshoorn en het haar talent verder by Holy Cross Convent op Graaff-Reinet beoefen.
Sy het die tydskrifverhale “Die Huis vir Nadia” (1982) en “Petronella van Aarde Burgemeester” (1983) geskryf.
Haar eerste boek Die twaalfuur-stokkie is in 1970 uitgegee. Die Judasbok, ’n bundel kortverhale, het in 1982 verskyn. Sy het ook tien jaar lank verhale vir Die Huisgenoot en Sarie geskryf.
Sy was aanvanklik huiwerig om ’n roman te skryf. In 1981 het Kringe in ’n bos, haar eerste bosroman, wat haar oornag beroemd gemaak het, verskyn. Dis in 12 tale vertaal.
In 1985 was Fiela se kind ook ’n blitsverkoper. In 1987 is Moerbeibos wat die sterkste blyk te wees, uitgegee. Ander boeke uit haar pen is Brug van die Esels (1993), Susters van Eva (1995), Pieternella van die Kaap (2000) en Toorbos (2003).
Sy het die ATKV-prosaprys vir die eerste twee boeke ontvang.
Sy is deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Boswese met ’n toekenning vir uitsonderlike bydrae tot bosbou in Suidelike Afrika vereer. Die Universiteit van Pretoria het ’n erepenning vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans aan haar oorhandig.
Fiela se kind is as verhoogstuk opgevoer en in 1988 het Katinka Heyns dit in ’n rolprent omskep. Meer onlangs is ’n nuwe weergawe daarvan met Brett Michael Innes as regisseur en draaiboekskrywer verfilm, wat mense opnuut na rolprentteaters lok.
Sy is op 20 Februarie 2005 op die ouderdom van 66 in Mosselbaai aan hartversaking oorlede.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'