MOSSELBAAI NUUS - Gordon Meyer het op Donderdag, 16 Desember na 114 dae, self uit die hospitaal gestap genees van Covid-19.
Op 78 is hy die nuwe rekordhouer op Mosselbaai vir die langste hospitalisasie weens dié siekte.
Gordon en sy vrou Judy is beide in laat Augustus vanjaar met Covid-19 gediagnoseer. Toe hulle huweliksherdenking op 22 Augustus aanbreek, was Gordon te siek om dit te vier en was sy belofte aan Judy dat hulle volgende jaar iets behoorliks sal doen.
"Hy het 'n kwaai griep, brandpyne in sy bene en asemnood gehad," vertel Judy. Sy het egter ligter daarvan afgekom. Tydens sy hospitalisasisie, was Gordon in die sorg van dr Riaan Marais. Aanvanklik was daar nie sprake dat Judy Gordon kon sien of besoek nie. As 'n toegewyde Christen, het sy egter haar man se siekbed 'n saak van intense gebed gemaak.
'I surrender'
"Ek het 'n bidkussinkie en ek kan jou sê, ek het hom behoorlik deurgebid."
Gordon se stryd was groot. Op 8 September, vertel Judy, het sy besef dat sy hom aan God se voete moet neerlê.
"Jy weet ons bid baie keer I surrender, maar as Christene besef ons nie altyd dat dit werklik beteken om iets by God te los en dit werklik daar te lós nie.
"Gordon se toestand het wipplank gery en daar was benoude oomblikke, maar hy het elke terugslag oorkom. Dis net 'n wonderwerk."
Judy het spesifiek vir die mediese personeel gebid en praat met die hoogste agting van dr Marais en veral die personeel van die intensiewe sorgeenheid waar Gordon behandel is.
Op 21 September, 'n maand nadat Gordon opgeneem is, kry sy geleentheid om hom te besoek. Ook dit, was 'n antwoord op gebed.
Inenting
Nie sy of Gordon was ingeënt teen Covid-19 toe hulle die virus opgedoen het nie. Soos baie ander, was Judy onseker oor die inenting.
"Ek was 'n draadsitter. Dan was ek daarvoor, maar meerendeels daarteen."
Tydens haar gebedstyd na Gordon se opname in die hospitaal, self nog aan die herstel van Covid-19, het sy ervaar dat God haar vrese oor die intenting besweer.
"Ek het in my Gees gevoel dat God vir my sê, 'julle bid vir uitkoms uit hierdie siekte en daar is een, maar julle weier om dit te aanvaar'. Ek het toe, ongeveer 'n maand nadat ek siek geword en weer herstel het, die Covid-19-intenting ontvang. Ek het dit ontvang met die grootste vrede in my hart wat ek nog ooit beleef het." Gordon het op 18 Oktober, sy 78ste verjaarsdag in die hospitaal gevier.
Twintig kilogram ligter, maar andersins wonderbaarlik genees, het hy verlede Donderdag uit Vidamed-daghospitaal gestap. Na hierdie ervaring is Judy daarvan oortuig dat God 'n doel met Covid-19 het. "Ek het altyd die Here geken, maar hierdie het my geloofslewe tot 'n nuwe vlak laat verdiep. Geloftedag het nou vir my nuwe betekenis."
Gordon Meyer saam met dr Riaan Marais. Gordon (78) is op 16 Desember na 114 dae uit die hospitaal ontslaand nadat hy Covid-19 opgedoen het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'