MOSSELBAAI NUUS - Oor 'n week is dit Hartenbos se beurt om die duisende deelnemers aan vanjaar se Buffalo Rally te verwelkom. Verlede jaar het die Buffers oorweldigend gestem om die byeenkoms in hul dorp van voorkeur te behou en daarom keer die duisende motorfietsryers vir die veertiende keer terug na Mosselbaai.
Vanjaar verwag die organiseerders, die Nomads-motorfietsklub van Kaapstad selfs meer deelnemers as vantevore wanneer die hekke na die feesterrein by die ATKV Hartenbos, amptelik om 08:00 op Vrydag, 12 April open.
Die naweek voorspel pure pret met die gebrul van motorfietse deur die dorp se strate, bikers in hul klubdrag wat gewilde eetplekke besoek, tente wat in die kampterrein verrys en groepe vriende wat oral lag en gesels.
By die feesterrein, sal orkeste deurentyd vir vermaak sorg, terwyl die gewilde stalletjies allerlei items, meestal met 'n motorfietstema, te koop sal aanbied. Boonop bied die nuwe venue steeds onverbeterlike uitsigte oor die see en die gerief van top kuierplekke binne stapafstand.
Die duisende deelnemers het een doel voor oë en dit is om 'n naweek lank lekker te kuier saam met ander motorfietsentoesiaste. Heelparty lê die langpad op hul motorfietse af en talle word van buite die Wes-Kaap, selfs van Namibië, verwag. Sommige van die motorfietsryers laai hul blink ysterperde op 'n sleepwa tot hier en geniet die naweek se samesyn terwyl hulle aan die massarit deur die dorp deelneem. Sommige plaas hul hoop op die kontant- en ander pryse wat tydens die naweek op die feesterrein uitgedeel word. Minstens een wenner sal na dese met R135 000 in die beursie huis toe gaan.
Die organiseerders maan egter dat slegs motorfietse op die terrein toegelaat sal word en vra dat alternatiewe reëlings getref moet word vir enige voertuie of sleepwaens.
Boonop baat die dorp ook by die gekuier aangesien die Mosselbaai Tafelronde die geleentheid as hul primêre fondswerwingsbyeenkoms benut. Die opbrengs uit die biertuin wat deur lede van die Tafelronde bedryf word, word verdeel onder instansies soos die NSRI asook ander organisasies.
Vir 2019 word die Buffers net die beste weersomstandighede en 'n veilige rit toegewens.
Dis ook nie net die ou manne wat die massarit deur die dorp geniet nie. Foto's: Mossel Bay Advertiser Vryskutfotograwe
Die wat weet sê 'n liefde vir motorfietse is aansteeklik - en oorerflik, soos hierdie gesin van Mosselbaai kan getuig.
Tydens die Saterdagoggend se massarit deur die dorp is die duisende groot - en klein - motorfietse iets om te aanskou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'