KLEIN BRAKRIVIER NUUS - Uit die Mond van Klein-Brakrivier is 'n volkleur koffietafelboek wat 436 bladsye beslaan, waarin 60 stemme oor meer as 100 onderwerpe gesels.
Die boek bevat 'n bundel vol stories wat handel oor toeka-se-dae, onthou-jy-nog, memoires, droomvakansies en kwajongstreke.
Dit dek onderwerpe soos geskiedenis, geografie en ruimtelike ontwikkeling; families, die lewe op die strand, in die rotspoele en die rivier; visvang; oesters; vloede; bewarea; Mej Klein Brak-kompetisies; die Vaaljapie Restaurant; die treinstasie; Strooidakkerk; Neethling-orkes; strandrugby; tennis; fietsry; see-kajak; stokperdjies; Riverside; Power Town; die ou kragstasie; boerdery; toerisme; die olieramp; Orca; VLV; nostalgie; jonger stemme; belastingbetalersvereniging en sosialemediaplatforms.
Covid-19
Die droom het ontstaan toe 'n paar individue tydens die Covid-19-grendelperiode vroeg in Januarie 2020 bymekaargekom en die moontlikheid bespreek het om 'n koffietafelboek saam te stel. Die algemene gevoel was dat die persone wat so 'n boek moes geskryf het, reeds oorlede is, en dat hulle nou die "ouer geslag" is wat moet verseker dat die geskiedenis en stories van Klein-Brakrivier vir die nageslag vasgepen word.
Helga Steyn van Hemel en See Boeke en Stella Stofberg as ontwerpkunstenaar het daartoe bygedra dat die boek binne minder as 'n jaar werklikheid geword het.
Volgens Jannie Neethling, wat reeds 'n vyfde geslag Kleinbrakker is, "is die skilderagtige Klein-Brakrivier, tussen bosse en duine, met sonskyn, strand en see, deur 'n paar families en vriende in 'n somervakansieparadys omskep waarheen vakansiegangers stroom."
Antoinette le Roux, wat die derde geslag verteenwoordig, sê reguit: "Klein Brak is in ons bloed. Vir my is dit die grootste voorreg om nou permanent hier te kan bly."
Francois Malan, ook derde geslag, hoop dat die boek baie vreugde sal bring.
Die redakteur van Huisgenoot, Yvonne Beyers se sentiment is: "My kinders sal die vyfde generasie word wat al met die kronkels saam in die rivier afdryf – van bo waar ons geslag ná geslag inspring, tot onder by die eindelose blou see."
Tydens sy navorsing het Skip Krige gevind dat mense mekaar herontdek, dat daar 'n soort trots en gemeenskapsgevoel oor die plek is, dat historiese grense oorgesteek is, en dat daar 'n groter bewustheid van waarde en sentiment is. Hopelik sal die woorde "remembering a place that is gone" nooit op Klein-Brakrivier van toepassing word nie.
Die boekbekendstelling vind Maandag, 20 Desember om 17:30 in Beyersstraat, Klein-Brakrivier plaas. Boeke sal te koop wees. Vir meer inligting kontak Skip Krige by 082 411 3414 of skipkrig@mweb.co.za
'Ons bring jou die nuutste Klein Brakrivier, Tuinroete nuus'