MOSSELBAAI NUUS - Blom, 'n teefhondjie, is sedert die begin van Project Blessing deel van die oganisasie. Project Blessing is 'n NWO sonder winsbejag vir diere- en gemeenskapsorg.
Plaaslike inwoners, Anton Siebert en Michelle Smit, het die NWO gestig.
Met 'n passie vir diere het dié twee plaaslike inwoners dit hulle missie gemaak om diere in nood in die gemeenskap te help en om fondse en kos in te samel vir die versorging van die diere.
"Ons het tot 13 Oktober om 'n huis of pleeghuis te kry vir Blom, anders word sy uitgesit en dit breek ons harte. Ons baklei al sowat 'n jaar lank vir haar," sê Smit hartseer.
"Sy is 'n baie goeie hond en baie gehoorsaam. Sy is uitstekend met kinders en baie liefdevol, maar ongelukkig moet sy 'n alleen-hond wees, of saam met 'n groot reun woon."
Volgens die egpaar was Blom baie getraumatiseer in die verlede en het sy baie aandag nodig.
"Haar lewe was nie altyd maklik nie, maar ons was altyd daar om haar so goed as moontlik liefde en ondersteuning te bied." sê Smit. Blom was by twee nuwe eienaars, maar kom nie oor die weg met ander teefhonde op een perseel nie.
Toe hulle haar gekry het, het sy bytwonde aan die maag en kop gehad en moes sy steke kry. Die egpaar het haar versorg en 'n nuwe blyplek vir haar gesoek.
Met 'n besoek aan die huis waar hulle gereeld gekom het om na die welstand van die diere te verneem, het die eienaar laat blyk dat hy nie meer vir Blom, kon versorg nie. Siebert en Smit ken Blom al langer as twee jaar en het baie lief geword vir die hond.
"Sy is 'n wonderlike hond met 'n pragtige persoonlikheid," sê Smit.
Blom het Januarie geboorte geskenk aan agt pragtige hondjies wat intussen elkeen 'n blyplek gekry het. Daarna is sy intussen gesteriliseer. Sy is 4 tot 5 jaar oud en 'n medium grootte hond.
Siebert was tweede prins in Mnr Suid-Afrika 2021 en Smit tweede prinses by verlede jaar se Mej Eden SA skoonheidskompetisie. Hierdie jaar is sy aangewys as die Mej Westelike Provinsie Ambassadeur.
Indien enigiemand die paartjie se passie vir diere wil ondersteun, of vir Blom 'n goeie tuiste kan gee, kan hul gerus vir Smit kontak. (073 361 7074).
Project Blessing kan ondersteun word deur bydraes te maak na Nedbank, rekening nommer 1226884660, takkode 14720500 met enige verwysing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’