MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se sakekern, ten minste die gedeelte wat binne die grense van die Mosselbaai Sentrale Verbeteringsdistrik (CID) val, spog nou met 12 kennisgewingborde wat bedelary verbied.
Tien van die borde is deur die CID befonds en twee borde deur die Mosselbaai-munisipaliteit. Die oprigting is deur die munisipaliteit behartig.
Volgens die bestuurder van die CID, Werner Schwella, is die insette van die operasionele personeel verkry betreffende die brandpunte waar kennisgewingborde die nodigste sou wees.
"Die operasionele personeel van die CID speel 'n groot rol om bedelary te bekamp en wil ons opregte dank ook aan hul oordra vir die harde werk. Verder bevorder die operasionele personeel publieke veiligheid en met hul voetpatrollies is hul rol om misdaad te voorkom van ontskatbare waarde," voeg Schwella by.
Die veldtog om die CID se voetspoor te vergroot is steeds in volle swang.
Vir meer inligting, kontak Werner Schwella per e-pos by werner@schwella.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'