Hy het gepraat by Dames Aktueel se maandelikse vergadering, waar hulle spesiale gaste ontvang om oor hulle lewens te kom gesels. Aanvanklik wou hulle net 200 kaartjies beskikbaar stel vir die bobaasspeurder se besoek, maar die reaksie was oorweldigend en hulle moes 'n klomp ekstra tafels reël.
Piet Byleveld skryf sy sukses as speurder aan verskeie redes toe. Hy het 'n passie vir sy werk gehad, wat hy professioneel en met dodelike presisie uitgevoer het. Hy haat die wrede kriminele dade, maar hy het die moordenaars gerespekteer en as gelykes behandel sonder om ooit emosioneel by hulle betrokke te raak. Sodoende het hy hulle vertroue gewen en menige moordenaar het skuld erken en vir hom alles by die moordtonele uitgewys.
Sy menslikheid en deernis ten spte van die donker, geharde kriminele wêreld waarmee hy te doen gekry het, het diep tot moordenaars se menswees gespreek. Hy het selfs 'n radio, koerante en 'n Bybel aangedra tronk toe. Een misdadiger het hom selfs uit die tronk 'n geseënde Kersfees toegewens.
Vir hierdie glansspeurder is die moordtoneel van kardinale belang, selfs die kleinste besonderheid, en hy het niemand daar toegelaat nie. Die motief vir moord dra 70% tot die oplossing by, het hy gesê. Verder is die DNS van die allergrootste belang. Hy het 2 000 lykskouings in sy 38 diensjare bygewoon.
Voordat hy 'n moordenaar gekonfronteer het, het hy alle inligting, byvoorbeeld agtergrond, vriende, bewegings, ensomeer, omtrent die verdagte 100% nagegaan. Volgens Byleveld het alle reeksmoordenaars 'n uiters swak of geen verhouding met hul pa gehad nie en het hulle gewoonlik 'n dominerende ma-figuur. Daar is dus erge fisiese, emosionele en geestelike skade in hul grootwordjare opgedoen. Hul onmenslike dade teenoor veral vroue en kinders gee hulle dus mag en plaas hulle in beheer.
Byleveld verklaar dat die gesin as beginpunt van 'n gesonde samelewing dien en daarom vra hy ouers om hulle kinders lief te hê, hulle te leer om reg te leef, hulle teen verdowings-middels te waarsku, hulle te inspireer tot verhewe doelwitte en om vir hulle kinders te bid sodat hulle hierdie ouerliefde en -leiding in hulle lewe kan uitleef, en die regte keuses kan maak.
Outeniqua Dames Aktueel bedank Roelie Verdoes, senior finansiële begeleier en Kobus Cronjé van die Suid-Kaap-eenheid se besigheidsbestuurder, albei van Sanlam, vir hulle donasie om die glansspeurder George toe te vlieg.
De Dekke het 'n heerlike ligte ete voorgesit.
Gaste van Mosselbaai en Groot-Brak wat Outeniqua Dames Aktueel se aand met Piet Byleveld bygewoon het. Foto's: Louie Meyer.