TUINROETE NUUS - Die Tuinroete-distrik het in die week tot en met Dinsdag 8 Februarie, 304 nuwe gevalle van Covid-19 aangeteken, 'n voortsetting in die afname in nuwe, bevestigde gevalle.
Aan die begin van vandeesweek was die sewedaagse gemiddelde nuwe infeksies wat aangeteken is, 33 per dag vergeleke met 54 'n week gelede.
Die totaal bevestigde Covid-infeksies sedert die begin van die pandemie het op Dinsdag 8 Februarie op 80 126 gestaan.
Daar was 664 aktiewe gevalle in die distrik (George 258, Mosselbaai 143, Oudtshoorn 92, Bitou 64, Hessequa 51, Knysna 48 en Kannaland 8).
Mediclinic George en Geneva se bestuurder, Kassie Karstens sê gedurende die afgelope drie weke was die hospitaal baie stiller wat Covid-pasiënte betref. Maandag was daar slegs een positiewe pasiënt, maar dié was in die hospitaal vir 'n ander toestand.
Mediclinic sluit aan die einde van Februarie sy Covid-inentingsentrum. "Ons ent op die oomblik tussen 50 en 60 mense per dag in, wat dit nie lewensvatbaar maak om die sentrum oop te hou nie."
Die sentrum het tot en met Maandag 7 Februarie 'n totaal van ongeveer 27 260 mense ingeënt.
Karstens sê die hele vierde golf was aansienlik stiller met baie minder mense wat behandeling in intensiewesorg of ventilators nodig gehad het. "Ons skryf dit toe aan die goeie inentingskoers in George."
Volgens distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira, is 68,4% van die Tuinroete se bevolking ouer as 50 jaar ten volle ingeënt. In die ouderdomsgroep 18-49 jaar het bykans 49% een dosis entstof gekry.
Wes-Kaap uit die 4de golf
Volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid het die provinsie amptelik uit die vierde vlaag beweeg in die laaste week van Januarie toe minder as 600 nuwe daaglikse gevalle (588) aangeteken is, oftewel 15% van die piek van die golf. Volgens die tegniese definisie van 'n golf, is dit die keerpunt.
'n Gemiddeld van 18 Covid-sterftes per dag is in dieselfde tydperk aangeteken, wat bykans die helfte is van die daaglikse gemiddeld (31) gedurende die week vantevore.
Die afname in hospitalisasies en positiwiteitskoers wys ook dat die provinsie oor die vierde golf is.
Ernstige siekte en lang Covid in jongmense
Ferreira het jongmense aangemoedig om ook vir inenting te gaan aangesien jong persone wat met die koronavirus besmet is, wel ernstige longinfeksies kan opdoen, baie siek word en hospitalisasie benodig.
"Die jeug kan ook komplikasies hê, soos multisisteem- inflammatoriese sindroom wat intensiewe sorg kan vereis, of langdurige simptome wat hul gesondheid en welstand beïnvloed."
Lang Covid kan ook voorkom by jong, gesonde mense wat ligte of asimptomatiese infeksies het. "By sommige kinders en tieners wat Covid gehad het, het dit outoimmuun siektes soos jeug-artritis veroorsaak. Die entstof kan dit voorkom."
Simptome van lang Covid sluit in moegheid, breinmis, chroniese longsiekte en chroniese verlies aan reuk of smaak.
Die jongste beskikbare syfers toon dat George 258 aktiewe Covid-gevalle het. Syfers is verskaf deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'