La Peron, wat ten beste beskryf kan word as 'n seekos-ervaring, open vanaand 13 Desember, om 19:00, en bring nie net nuwe lewe na die geskiedkundige perseel nie, maar 'n gastronomiese kosbelewenis soos min.
Vir La Peron mede-eienaar en boonop sjef, Myra Prinsloo, saam met haar twee getroue kokke van jare, is hierdie 'n avontuur waaroor sy lankal droom – 'n seekosrestaurant in 'n hawe. Voorheen van Stilbaai, waar sy diep spore in die eiendom-ontwikkelingsmark en restaurantbedryf getrap het, bring sy haar unieke seekos-konsep nou na Mosselbaai se ou stasie.
Die ses-gang maaltyd, wat gaste onder die palmbome in hierdie ongekunstelde omgewing geniet, sluit lekkernye in soos Weskus-snoek met 'n ruim porsie soetpatats, vars gebraaide stokvis met tuisgemaakte aartappelskyfies, sappige calamari en koning-garnale op gegeurde rys. Die mosselsop met potbrood, botter en korrelkonfyt is bekend as een van Myra se treffer-resepte waarvoor gaste keer op keer terugkom vir meer. Gehalte filterkoffie en 'n stroperige koeksister is natuurlik die ideale afronding vir hierdie gesogte maaltyd.
'n Kuier by La Peron sal jou R250 per kop uit die sak jaag, wat reeds jou fooitjie insluit, en gaste kan boonop hul eie drankies saambring wat hul rekening aansienlik laer hou, sonder die heffing van 'n kurkfooi. Terwyl familie en vriende heerlik saamkuier, kan die jongklomp hul gate uit geniet in die groot sandput. Besprekings is noodsaaklik en kan gedoen word by 044 050 0050. La Peron is geleë in die ou Mosselbaai Stasie, in die hawegebied.

Gaste wat La Peron besoek, kan uitsien na 'n heerlike kuier terwyl hulle gehalte seekos geniet in 'n ongekunstelde omgewing.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'