Sponsored Content
SAKENUUS - Intensie kan meer gewig dra as die vormvereistes wanneer dit by testamente kom. Daar is baie gevalle waar ’n persoon ’n testament uitvoer maar wanneer dit by die beredding van die boedel kom, word daar ontdek dat die testament nie aan die vereistes voldoen vir ’n geldige testament nie.
Artikel 2 van die Wet op Testamente 7 van 1959, bevat die uiteensetting van die vereistes vir ’n geldige testament.
Dit sluit in, onder andere, dat die testament geteken moet wees deur die testateur/ testatrise en deur twee of meer geskikte getuies en dat ’n kommissaris van ede sertifikaat daarop moet wees indien die testateur met ’n merk geteken het.
Wat gebeur as die testateur sterwe sonder om die vereistes van ’n testament te bevredig?
Wanneer die Meester van die Hooggeregshof ’n testament ontvang wat nie voldoen aan die vereistes nie, sal die testament gewoonlik verwerp word. Gevolglik, sal die oorledene se boedel intestaat afgehandel word. Dit beteken dat die boedel afgehandel sal word kragtens die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987, en die bates van die boedel sal gevolglik verdeel word ooreenkomstig hierdie wet. Die inhoud van die testament sal gevolglik geïgnoreer word.
Daar is wel ‘n moontlike regstelling. Artikel 2(3) van die Wet op Testamente bepaal dat indien ‘n hof oortuig is dat ‘n dokument, of ‘n wysiging van ‘n dokument, wat opgestel of uitgevoer is deur ‘n persoon wat sedertdien oorlede is, bedoel was om sy testament of ‘n wysiging van sy testament te wees, die hof die Meester sal beveel om sodanige dokument, of sodanige dokument soos gewysig, vir doeleindes van die Boedelwet 66 van 1965, as ‘n testament te aanvaar, al voldoen dit nie aan al die vereistes rakende die formele uitvoering of wysiging van testamente nie.
Regstelling kan gedoen word deur ‘n aansoek kragtens artikel 2(3) van die Wet op Testamente. Hierdie spesifieke bepaling van die Wet maak dit vir ‘n party moontlik om ‘n hof aansoek te bring waarin die applikant versoek dat ‘n testament deur die Meester aanvaar word vir doeleindes van die Boedelwet, self al voldoen dit nie aan die formele vereistes van ‘n testament nie.
In die saak Perjumal v Janse Van Rensburg N.O en Andere het die applikant versoek dat ‘n ongetekende testament aanvaar sal word as die oorledene se laaste testament kragtens artikel 2(3) van die Wet op Testamente. Die testament het aansienlik verskil van die oorledene se vorige geldig uitgevoerde testament. Die oorledene het sy testament gewysig deur wysigings op sy rekenaar op te stel in die teenwoordigheid van die applikant (sy lewensmaat), en die hersiene dokument aan sy eksekuteur gestuur. Alhoewel die oorledene nie die gewysigde testament geteken het nie, het hy die intensie uitgespreek om dit te doen, soos blyk uit ‘n stemboodskap wat ‘n maand voor sy dood aan die eksekuteur gestuur is.
Die hof het bevind dat die vereiste van artikel 2(3) nagekom is aangesien die oorledene die gewysigde dokument as sy laaste testament bedoel het. Die hof het gevolglik die Meester gelas om die gewysigde testament vir doeleindes van die administrasie van die oorledene se boedel te aanvaar.
Hierdie saak illustreer dat ‘n testament nie noodwendig ongeldig verklaar sal word in die afwesigheid van sekere vormvereistes nie en dat die inhoud van so ‘n testament nie noodwendig verwerp sal word nie. As duidelike intensie bewys kan word, sal ‘n artikel 2(3) aansoek regstelling bring.
Aansoeke soos hierdie kan wel tot hoë kostes lei – soos met enige litigeerbare aangeleenthede – en daarom word dit sterk aanbeveel dat testamente behoorlik uitgevoer word in volle nakoming van die Wet op Testamente.
Artikel deur: Bevan Wright (LLB), Kandidaatprokureur
Bevan Wright.
Kontak vir Bevan by 044 6019900 of bevan@rgprok.com vir meer inligting
www.rauchgertenbach.com

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’