MOSSELBAAI NUUS - 'n Mosselbaaise oudskoolhoof het voorwaar rede om trots te wees.
Met byna vier dekades se onderwyservaring het Sharlton Groenewald sy doktorale kwalifikasie in opvoedkunde verwerf nadat hy 'n nuwe model ontwikkel het om rolspelers beter te betrek in die skryf en opstel van skoolbeleide - veral die gedragskode.
Die nuwe doktor, wat onlangs ná 'n lang loopbaan as hoof by Ridgeview Primêr afgetree het, sê sy navorsing spruit uit jare se frustrasie én waarneming.
"Tydens my meesters het ek besef dat skole nie al die rolspelers betrek wanneer belangrike beleide opgestel word nie.
Dit het my geïnspireer om die PhD te doen en uiteindelik het ek 'n model ontwikkel om presies dít reg te stel," sê Groenewald.
Sy doktorsgraad, wat twee jaar geneem het, is gegrond op onderhoude, literatuur en praktiese toepassing.
Baie van sy bevindings kon Groenewald reeds gedurende sy laaste maande as skoolhoof toets.
"Ek trap dalk op 'n paar tone," lag hy, "maar my werk is deeglik gegrond. Kollegas gebruik my studies in hul eie navorsing en selfs skole haal my al aan. Ek is ook beskikbaar om werkswinkels aan te bied; ek wil graag hê dat skole moet baatvind by wat ek geleer het."
'n Nuwe fase by 'n tersiêre instelling
Die nuwe PhD-draer se droom was nog altyd om by 'n tersiêre instelling betrokke te raak, en nou is dit amptelik sy realiteit.
"Ek het só baie geleer; ek weet nie eers waar om te begin nie. Ek is net dankbaar dat ek nou op 'n ander vlak 'n verskil in onderwys kan maak."
Groenewald beklemtoon dat leerders steeds sy grootste motivering is. "Hulle is die belangrikste komponent van 'n skool. My werk fokus daarop om hulle beter te bestuur en skole veiliger en aangenamer te maak."
Die pad was nie maklik nie. Groenewald het naweke en laat aandure gewerk, dikwels ten koste van sy gesin en sosiale lewe.
"Ek het my gesin en vriende baie afgeskeep. Daarom is my dankbaarheid teenoor hulle groot," sê hy. "Ek is ook baie dank verskuldig aan my adjunkhoof, en natuurlik aan die WKOD [Wes-Kaapse Onderwysdepartement] wat my die geleentheid gegee het om navorsing in skole te doen."
Om balans te hou het hy dikwels met sy kamera langs die see gaan stap. "Fotografie is my asemruimte. Ek is 'n lid van die Eden-fotografievereniging en is bevorder tot 'n drie-ster-fotograaf."
Groenewald se grootste inspirasie was egter sy drie seuns, almal onderwysers. "Die studiegogga het hulle ook gebyt," grap hy. "Volgende jaar gaan hulle ook die boeke nader trek."
Groenewald se raad aan leerders en jongmense is eenvoudig, maar kragtig: "Luister na jou onderwysers. Gaan skool toe met een doel, om te leer. Lees, lees en nogmaals lees.
"Moenie vasval in sosiale media nie; gebruik jou tyd om opvoedkundige materiaal te lees. En as jou omstandighede jou nie toelaat nie, gaan klop aan by die skool, die biblioteek of selfs jou kerk. Harde werk is die sleutel tot sukses."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’