MOSSELBAAI NUUS - “Sy is die raserige een in ons huis,” het Cassie Campbell se ma, Tiffany, vir Mossel Bay Advertiser gesê.
Dié 10-jarige meisie het ’n gehoorgestremdheid en is heeltemal doof.
Volgens haar ma was Cassie vroeër jare ’n stil en soet kind, en sy het amper glad nie gehuil nie.
Tiffany vertel hoe Cassie met swak spiere en asmatiese brongitis gesukkel het toe sy ’n baba was.
Op sewe maande het Cassie vir haar eerste gehoortoets gegaan - die eerste van vele wat sou volg, insluitende toetse op haar brein.
Geen van die toetse het egter ooit die aanduiding gegee dat sy doof is nie.
Die dokters het Tiffany meegedeel dat Cassie haar ontwikkelingsmylpale later as gewoonlik sou bereik, insluitende om te loop en praat.
Te dankie aan arbeidsterapie het Cassie haar eerste treë op die ouderdom van twee gegee.
Sy het eers begin kommunikeer toe sy vyf jaar oud was, nadat ’n toets uiteindelik bevestig het dat sy nie kon hoor nie.
Nou het Cassie gebaretaal aangeleer met behulp van haar onderwyser, Liana van Rensburg, by die Carpe Diem-skool in George, waar sy baie goed presteer. Haar familie is ook besig om gebaretaal aan te leer, en hoewel hulle nog nie heeltemal vlot is nie, kan hulle egter met Cassie kommunikeer.
“Sy sal jou wys hoe om jou hande behoorlik te vorm,” sê haar ma.
Tiffany beskryf haar dogter as allesbehalwe skaam. “Sy is spontaan, lieflik, slim. Uniek op haar eie manier,” sê sy.
Cassie hou nie daarvan om baie tyd binnenshuis deur te bring nie en geniet dit om buite te speel en ‘koekies’ uit sand te maak.
Tiffany sê sy is op soek na ander gesinne en kinders met gehoorgestremdhede in Mosselbaai, sodat Cassie ’n gemeenskap van mense buite haar ouers, grootouers en ouer broer kan hê.
Cassie se vriende by die skool is almal in George, wat ’n bietjie ver is om te reis vir byeenkomste.
“Dis moeilik om te glo dat Cassie die enigste dowe kind in Mosselbaai is,” sê haar ma.
Cassie en haar gesin gaan binnekort uit Mosselbaai na Worcester vertrek sodat sy ’n nuwe skool kan bywoon waar sy gespesialiseerde onderwys vir dowe mense sal ontvang.
Indien iemand finansieel tot die gesin se uitgawes wil bydra, skakel Tiffany by 084 841 5752 of 076 281 5427.
Cassie Campbell
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’