Advertorial
BESIGHEIDSNUUS - Elegant Fuel Mosselbaai vier vanjaar sy eerste bestaansjaar en sien uit na wat die toekoms alles inhou.
Dié vulstasie het verlede jaar sy deure oopgemaak in 'n blinknuwe blou en geel baadjie - 'n welkome gesig op die hoek van Mayixhalestraat en Louis Fourieweg in KwaNonqaba.
Die bestuur van Elegant Fuel sê hulle is uit en uit 'n familiebesigheid. Deon de Villiers is die eienaar, met sy dogter Zandri Hamman aan die stuur van die dag-tot-dag sake.
Zandri se man, Hannes, was ook baie nou betrokke by die bou van die vulstasie.
Net langsaan, op dieselfde perseel, bedryf eggenoot en ma, Marianda de Villiers, Pinnacle Point Properties.
Hierdie noue familie verbinding, sê Zandri, dra hulle net so oor na hul Elegant Fuel-personeel. "95% van die personeel waarmee ons begin het, werk steeds hier. Hulle is soos familie. Sonder hulle kan ons nie, en sonder ons kan hulle nie."
Zandri sê dit is veral lekker wanneer kliënte by hulle instap en opgewonde is om dieselfde gesigte as verlede jaar te herken.
Sedert hul opening het hulle nog net van krag tot krag gegaan. "Ons het baie geleer en leer nog steeds. Hier is ook nog baie groeigeleentheid en ons gaan glad nie stagneer nie." Sy wil nog nie te veel van die geheim weggee nie, maar sê hulle het nog groot planne vir die jaar wat voorlê.
Laastens, is Elegant Fuel ook trots op sy betrokkenheid by die gemeenskap. In 'n poging om terug te gee, sê Zandri pak hulle elke maand 'n gemeenskapsprojek aan waar hulle 'n nood daarvoor identifiseer.
Groot opgewondenheid heers onder personeel oor dié een jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’