Die kompetisie is ‘n jaarlikse instelling en word gereël deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou in vennootskap met BKB, CMW, Landbank en die Beaufort-Wes Skougenootskap.
“Vanjaar se kompetisie is uitgebrei met praktiese inligtingsessies, demonstrasies en stoetdiervoorbeelde en was ‘n groot sukses,” het Manie Grobler, spesialis landbou-adviseur, landbou-ondersteuning en -ontwikkeling (Farmer Support en Development (FSD), gesê.
Die inskrywings in kleinveeklasse, naamlik Dorper, Wol, Kruisras, Angora, Boerbok en slaglam is vanuit die Wes-Kaap (Eden, die Sentraal-Karoo en die Weskus), en die Oos-Kaap (gekoördineer deur die Grootfontein Landbou-ontwikkelings-instituut) ontvang.
Die afdeling FSD van die departement reël die logistieke om die boere en hul vee by die skouterrein te kry, en dra die onkoste van vervoer, verblyf en kos vir die deelnemende boere.
“Ek het geweldig baie geleer,” het Henrico Komutu, ‘n ontwikkelende boer van die Klein-Karoo wat vanjaar vir die eerste keer deelgeneem het, gesê. “Ek vra nie finansiële hulp van enige instansie nie, maar gryp elke geleentheid aan om meer oor landbou te leer.” Volgens hom het die kompetisie vir hom die geleentheid gegee om sy eie kudde te evalueer, en raad te kry oor hoe om dit te verbeter. “Ek bou nog my kudde en het tydens hierdie uitstekende netwerkgeleentheid ‘n goeie ram koop. Ek gaan volgende jaar beslis weer deelneem sodat ek my eie kudde se vordering kan meet.”
Gedurende die oggend is lesings gegee oor inheemse beesrasse, naamlik die Boran, Drakensberger, Nguni en Tuli, asook lesings oor die Anatoliese Berghond en die Maluti, wat uitstekend aangewend word om vee in die veld teen wilde diere te beskerm.
Die slaglamkompetisie en demonstrasies van ramtoets, koggelram-operasie, skeer van wol met ‘n elektriese skeerder en sybokkiehaar met handskêre, het ook groot belangstelling ontlok.
“’n Geleentheid soos hierdie kan nie sonder die hulp van die verskillende bedrywe aangebied word nie,” het Willem Burger, hoof van Landbou Ondersteunings- en ontwikkelingsdienste gesê. “Beamptes van die organisasies se beoordeling van vee was van onskatbare waarde en sonder hulle samewerking sou die kompetisie nie moontlik gewees het nie.”
John Durr, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Wes-Kaap, het gesê die organisasie is baie nou betrokke by die vestiging en ondersteuning van ontwikkelende veeboere. “Ons is tans betrokke by 30 projekte (wat individuele boere, trusts en koöperatiewe boerderye insluit). Ons lewer insette met betrekking tot kwaliteit van vee en vleis en verbeterde boerderymetodes. Ons moedig mede-boere aan om as mentors vir ontwikkelende boere op te tree.”

Slaglammers word beoordeel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'