Gedurende die vorige era het Mosselbaai se bruin gemeenskap baie rugbylegendes opgelewer, en daarvan getuig die optekeninge in die argiewe, nie net plaaslik nie, maar ook landswyd. Reeds ná afloop van die Eerste Wêreldoorlog met die stigting van die Lilywhites, een van die eerste bruin rugbyklubs op die dorp, het daar goeie rugbyspelers hulle verskyning gemaak.
Springroses en Athletics, wat onderskeidelik in 1927 en 1933 gestig is, sou van die beste rugbyspelers gedurende hulle bestaan oplewer. Teen 1933 het Lilywhites nie meer bestaan nie. Springroses en die Mosselbaai-klub het gereeld saam met Groot-Brakrivier R.V.K die kern van die SWD-span gevorm.
Die wedstryde tussen hierdie drie topspanne het nie destyds net die verbeelding van die bruin rugbygeesdriftiges aangegryp nie, maar ook dié van die plaaslike blanke gemeenskap. ’n Paar wedstryde wat deur ’n blanke sportverslaggewer (naam onbekend) vir Mossel Bay Advertiser gedek is, getuig van rugbygeesdriftiges se belangstelling, veral in die vroeë/middel 1950’s.
Hier is ’n opskrif uit Mossel Bay Advertiser oor ’n wedstryd wat op Saterdag 28 April 1951 gespeel moes word: “ Unbeaten teams clash today - Athletics vs Springroses ”, asook ’n kort uittreksel: “Brilliant rugby on Hill Ground - S.W.Districts vs Boland.“
"The Van Riebeeck Ground for Europeans was the scene on Saturday afternoon of two non-European interprovincial rugby matches between Boland and S.W.D, which produced rugby of the highest standard, if not more spectacular than anything of its kind seen here this season."
Die Shepherds-beker Cecil Shepherd, eienaar van die destydse Park Hotel, was ’n groot aanhanger van rugby, volgens navorsing en vertellings. Sy bydrae tot die plaaslike bruin rugby staan opgeteken in die argiewe. Hy was een van die eerste sakemanne uit die blanke gemeenskap wat in die vroeë 1930’s twee stelle rugbytruie aan die Springroses geskenk het.
Die bekende Andrew Titus wat destyds by die Park Hotel gewerk het en op die klub se bestuur gedien het, het voorspraak gemaak vir hierdie twee stelle truie. In 1951 skenk Shepherd ’n beker aan die twee plaaslike rugbyklubs, Springroses en Athletics.
Die beker, wat as die Shepherd-beker sou bekendstaan, is op een voorwaarde aan hierdie twee klubs geskenk: dat hulle oor Paasnaweek as ’n gekombineerde span teen ander dorpspanne om hierdie beker moes speel. Dieselfde jaar nog wen hierdie gekombineerde span dié beker asook die Lewis-, Olkers-, en H.O. Meyer-beker.
Die Shepherd-beker was vir jare daarna ’n gereelde Paasnaweek-instelling in Mosselbaai. Hierdie gewilde toernooi het spanne so ver as Kaapstad, die destydse Port Elizabeth en die omliggende dorpe getrek. In latere jare het die Springroses en Athletics op hul eie aan hierdie toernooi deelgeneem. Dié twee spanne, wat die toernooi oor die jare oorheers het, het gereeld in die finaal teen mekaar te staan gekom.
Mosselbaai-klub, wat in 1963 uit die Springroses en Athletics gestig is, was ook later ’n krag in hierdie toernooi. Springroses se spelers en bestuurslede het hulle egter dieselfde jaar van die Mosselbaai-klub onttrek en weer op hul eie voortgegaan. In 1992 smelt hierdie twee klubs, asook nog twee kleiner rugbyklubs (die Marlyne en Langeberg R.V.K.) saam en stig Barbarians R.V.K. - en 34 jaar later is die Barbarians steeds hier.
2026 het ook geboorte gegee aan die Shepherds-beker se nasaat, die Legends-beker. Dié beker is as die groot prys vir die wenner van die Mosselbaai Paasfeesrugbytoernooi voorgehou. Dié toernooi het vanjaar sy debuut gemaak.
*Die menings en historiese verwysings in hierdie brief is dié van die skrywer.