MOSSELBAAI NUUS - Plaaslike rockgroep, Van Konings se jongste musiekvideo, Probeer nog 'n keer, 'n week nadat dit vrygestel is, is reeds deur meer as 10 000 kykers op YouTube gesien.
Volgens aanduidings, is hierdie groep stadig maar seker beter om hulle merk in die musiekindustrie te maak.
Hulle nuwe musiekvideo, volgens sanger en liedjieskrywer, Leon van Rensburg gaan oor mense wat platgeslaan is deur die lewe. "Daar is vier karakters. 'n Dwelmverslaafde...eintlik is baie mense mos maar verslaaf aan iets. Daar is 'n boemelaar, 'n ou wat deur omstandighede gelei is om op straat te leef. 'n Ou wat sukkel in sy werk. En dan 'n koning of die mens wat elkeen eintlik kan wees," verduidelik hy.
Die boodskap som hy op is "never give up" en dat mense moet aanhou probeer wat hulle bestem is om te word.
Ook hierdie video is verfilm en geredigeer deur Wessel van Heerden, joernalis by die George Herald, susterkoerant van die Mossel Bay Advertiser.
Van Heerden is nou ses jaar betrokke by Van Konings en het al vyf van hulle musiekvideos vervaardig. "Hulle het baie sterk idees van wat hulle wil hê, maar is tog oop vir enige ander voorstelle. Hulle probeer graag iets nuuts. Vir hulle gaan dit ook glad nie oor die bekendheid nie, maar hulle wil lewens verander met die boodskap wat hulle oordra."
Ghoema-toekennings
Die groep is verlede jaar deur die organiseerders van die Ghoema-toekennings raakgesien. Van Heerden het een van hulle musiekvideos aan kykNET gestuur wat dit op hulle beurt verwys het na die organiseerders van die Ghoemas.
"Hulle het ons musiekvideo, Toekoms verfilm in die Bradach Manor-gastehuis in Knysna, wat tydens die vernietigende brande in dié kusdorp in Junie 2017 in puin gelê is, gesien," vertel Van Rensburg. Nadat die Ghoema-organiseerders Van Konings uitgevra het oor wie hulle is en wat hulle doen, is hulle aangemoedig om hulle werk in te skryf.
Tans werk hulle hard aan 'n behoorlike inskrywing vir vanjaar. "Ons het 'n volledige album met 12 oorspronklik Afrikaanse liedjies en 'n hele paar videos. Die volgende video is alweer in die pyplyn," sê Van Rensburg. Verder werk hy, 'n Mosselbaaier in murg en been en die groep saam aan 'n lied spesiaal vir sy komvandaan wat 'n groot projek gaan wees.
Volgens Van Heerden is elkeen van die groep se videos uniek, maar hy hou besonders baie van hulle mees onlangse poging.
"Probeer nog 'n keer wys dat al voel dit of al die deure in jou lewe vir jou toegemaak het, moet jy net aanhou probeer. Die deur sal op die ou einde vir jou oopmaak."
Van Rensburg sê dat al wil beide die groep en hulle videograaf graag iets bereik met hulle musiek, is dit nie wat hulle vir 'n lewe wil doen nie. "Ons het almal darem ordentlike jobs. Op die oomblik gaan dit oor die hoeveelheid fun wat ons het."
"Vir my is die uitdaging om bekende stories op 'n nuwe manier te vertel. Ek hou ook daarvan om myself met elke video te verbeter, of dit nou is kamerategnieke of om op 'n unieke manier iets bekends te vertel. Daar is niks nuuts onder die son nie, maar om wat jy doen, kuns te maak. Ek sien musiekvideos as bewegende fotografie en nie net video nie," sluit van Heerden af.
Volg Van Konings gerus op facebook.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'