MOSSELBAAI VERMAAKNUUS - Plaaslike rockgroep, Van Konings het 2020 amper letterlik op 'n hoë noot begin met die bekendstelling van hulle eerste album getiteld, Maanlig.
Die groep was die afgelope paar jaar, ten spyte van hulle sogenaamde day jobs, aktief met die maak van verskeie musiekvideos. George Herald-joernalis, Wessel van Heerden was verantwoordelik vir die verfilming en redigering van al die groep se videos tot dusver.
"Ek skryf al liedjies sedert ek begin kitaar speel het, ongeveer 25 jaar gelede. Dit gebeur soms dat mense se liedjies in die asdrom beland. My liedjies het in my kop gebly. Ek is bly om in 'n seisoen te wees wanneer dinge wat jy aanpak, klaargemaak word. Die album was 'n uitdaging en 'n voorreg," vertel Leon van Rensburg, sanger en liedjieskrywer van die groep.
Een van die groep se gewildste musiekvideos tot nog toe, Die strate loop leeg in Mosselbaai, kry daagliks nog trefslae aanlyn.
Volgens Van Rensburg, toon aanlynsyfers dat die groep se musiek veral in Nederland aanhang geniet.
Van Konings se album, Maanlig is beskikbaar op CD, geheuestokkie, asook op aanlynplatforms.
Vir meer inligting, kontak Van Konings per WhatsApp (076 239 7067). Maanlig kan ook aanlyn op YouTube of hier geluister word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'