MOSSELBAAI NUUS - Toegang tot die Dorp van die Jaar-makietie op 7 Oktober is gratis juis om almal wat met hul SMSe verseker het dat die dorp die toekenning ontvang het, behoorlik vir hul ondersteuning te bedank.
Die direkteur: korporatiewe dienste van die Mosselbaai-munisipaliteit en voorsitter van die Dorp van die Jaar-reëlingskomitee, Edward Jantjies, sê: "Ons sien daarna uit om almal by die Sportfees en die makietie te verwelkom wanneer ons, ons pragtige dorp en sy mense vier.
"Baie dankie aan almal wat gestem en ons ondersteun het, ons waardeer dit opreg. Ons nooi graag almal uit om saam met ons fees te kom vier.
"En met so 'n top vermaakprogram, gaan daar beslis fees gevier word!"
Maak dus gerus reg om die hele dag fees te vier want die program, wat vanaf 10:00 tot om middernag strek bied verskeie plaaslike en nasionale kunstenaars met topklasvermaak.
Ou bekendes soos Emo Adams, maar ook die drie kategoriewenners van die Mossel Bay Got Talent-kompetisie vorm onder meer deel van die verhoogvertoning. Daarbenewens sal die talle stalletjies, 'n biertent, sport, pretritte vir die jongklomp en vele meer besoekers heelwat bied.
Sportfeesafsluiting
Die makietie val juis saam met die jaarlikse Mosselbaai Sportfees wat vanaf vandag, Vrydag 22 September, verskeie sportsoorte en selfs nasionale deelnemers gaan betrek.
Op 7 Oktober sluit die Sportfees gepas af met die Dorp van die Jaar-makietie.
'n Propvol verhoogprogram met onder meer nasionale kunstenaars soos Pieter Koen, Willem Botha, Early B en die The Voice-wenner, Craig Lucas, asook verskeie plaaslike sangers soos Ambrosia Muller, Sunel en meer, die Mosselbaai-kultuurforum se Indwe-koor en steweldansers gaan beslis top vermaak bied.
Aangesien die makietie 'n gemeenskapsfees is, is meer as 80% van die vermaak en stalletjies verteenwoordigend van die plaaslike gemeenskap.
Borgskappe
Die makietie word geborg deur Kwêla, Kia, Afrikaans.com, Mosselbaai Toerisme, die Mossel Bay Advertiser, en individuele sakemense op die dorp. 'n Bydrae word wel ook deur die Mosselbaai-munisipaliteit gelewer.
Daar word sowat 5 000-10 000 mense by die Dorp van die Jaar-makietie verwag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'