Redakteur Ben Snyman skryf:
Die afgelope twee weke was propvol gelaai met nuus, sport en ondervindings.
Maar ek het agtergekom dat nie almal in die dorp die Graaff-Reinet Advertiser goedgesind is nie.
Een van die grootste rolspelers in die dorp, die burgemeester, sy edele Willem Safers, het tydens sy eerste ontmoeting met my - ten aanskoue van ander teenwoordiges by Narsingstraat Primêre Skool - in sy lang toespraak gesê dat hy nie 'n "fan" van die Advertiser is nie.
Dit, nadat hy na aanleiding van 'n berig in Graaff-Reinet Advertiser, 'n donasie van R30 000 aan 'n netbalspan geskenk het vir 'n kampioenskap in Gauteng.
Burgemeester Safers kan gerus 'n ou briefie aan Graaff-Reinet Advertiser stuur om ons belastingbetalers te bedank vir die R30 000 munisipale geld wat hy aan die span kon skenk.
En terloops, die Advertiser sal aanhou om oor alle nuuswaardighede te berig - goed en sleg.
Die afgelope naweek was stampvol skolesport met spanne wat hard voorberei vir die komende interskole kompetisies wat binnekort in die dorp plaasvind.
Ek het verlede Vrydagaand tydens Hoër Volkskool se jaarlikse funksie op die vooraand van hulle kragmeting teen Cradock Hoërskool, 'n wonderlike ondervinding gehad.
Dit is tradisie om tydens die geleentheid skaapkop, afval en beesstert te bedien - 'n gesellige geleentheid waar daar moeite gedoen word met mooi gedekte tafels, musiek, lekker kos en genoeg vure om daai koue hande warm te maak.
My eerste skaapkop was 'n watertand ondervinding. Laat my bietjie dink aan 'n skilpadbraai: baie dop en min vleis! Volgende keer eet ek twee.
Die interskole atlete en deelnemers is besig om voor te berei vir die ontmoeting tussen Spandau Sekondêre Skool en Asherville Sekondêre Skool wat volgende week plaasvind.
Geniet dié week se interskole-bylaag oor die komende kragmeting en mag die beste spanne wen.