MOSSELBAAI NUUS - Die vreugdevure het die afgelope Saterdagaand hoog in die Barbarians-kamp gebrand.
Die klub se spanne het skoonskip teen Groot-Brakrivier gemaak, wat beteken Babaas se A-, B-, en C-span maak nou gereed vir die 2026 SWD Superliga A-eindstryd.
Barbarians A het naelskraap met 37 - 34 gewen, terwyl die B- en C-span onderskeidelik met 37 - 17 en 17 - 10 gewen het.
Die A-spankragmeting, wat op ’n volgepakte D’Almeidapark gespeel is, was vanaf die afskop soos van ’n derby verwag word: vol vuurwerke.
Babaas was in die eerste helfte die meer aanvallende span en het vier keer teenoor die Brakkies se een keer gaan druk. Die samespel tussen die tuisspan se voor- en agterspelers op die aanval, het die besoekers onder groot druk geplaas. Die Brakkies, ook bekend vir hul aanvallende spel, is min ruimte gebied en kon nie oor die voordeellyn kom nie. Teen rustyd was die telling op 30 - 5.
VIDEO: Een van die Barbarians se drieë
Video: Heartbeat TV
Die afrigtingspan moes hard met die manne in die kleedkamer gepraat het, want in die tweede helfte het Brak vyf drieë gedruk en die Barbarians slegs een. Babaas se voet was van die pedaal af, maar ná Groot-Brak se vyfde drie, het die eindfluitjie die Barbarians van ’n gewisse nederlaag gered.
Nou lê ’n eindstryd tussen die Mosselbaaiers en Oudtshoorniete by Outeniquapark in George voor; die Barbarians en Bridgton meet op 12 September hiér kragte.
In die vorige twee eindstryde wat hierdie spanne teen mekaar gespeel het, in 2005 en 2013, was Bridgton aan die wenkant. Kan Bridgton voortbou op hul prestasies, of is dit vanjaar die Barbarians se beurt?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’