MOSSELBAAI NUUS - Ná Mosselbaai Barbarians en Groot-Brakrivier se onderskeie kragmetings verlede naweek, is die halfeindstryd vir die SWD Superliga A ’n stryd tussen buurmanne.
Groot-Brakrivier-rugbyklub se A-, B- en C-span het verlede Saterdag teen Multisure Crusaders van George kragte gemeet en hul wedstryde oortuigend gewen. Die A-span behaal 'n oorwinning van 55 - 33, die B-span wen 64 - 0 en die C-span 45 - 25.
Brakkies kon ongelukkig nie daarin slaag om 'n tuishalfeindstryd te verseker nie - dié voorreg is die Mosselbaai Barbarians s’n.
Die Barbarians het verlede naweek teen Bridgton in Oudtshoorn te staan gekom. Bridgton het hierdie titaniese stryd met 44 - 40 gewen. Babaas se B- en C-span het ook onderskeidelik met 22 - 32 en 8 - 14 verloor.
Groot-Brak sê hul vertonings in die Top 8 was nie heeltemal op die vlak wat hulle dit graag sou wou hê nie, “maar wanneer die halfeindronde aanbreek, verander die dinamika”.
Die spanne verwag ’n stampvol D'Almeida-stadion, 'n ongelooflike atmosfeer en die tipe rugby wat nét ’n stryd tussen buurmanne kan oplewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’