MOSSELBAAI SPORT NUUS - Tydens 'n ope jukskeidag gehou op die bane van Hartenbos het verskeie sosiale spelers van onder andere Groot-Brakrivier, Danabaai en Boggomsbaai hul insluiting in saamgestelde spanne positief laat geld.
Die inisiatief deur Bossie Boshoff, ondersteun deur Sydney Stopforth, het Saterdag, 17 November sosiale spelers van bogenoemde klubs ingesluit in spanne saam met gesoute spelers ten einde in spanverband leiding en onderrig te gee, sodat die spel almeer gevestig en uitgebou kan word, juis onder sosiale spelers.
Dit was aangenaam om die leergierigheid van beginners in jukskei te ondersteun in die uitvoering van die basiese houe wat in jukskei bestaan. Soveel baat is gevind deur die leerders dat hulle aangedring het op 'n volgende oefensessie.
Hoewel die spanne teen mekaar kompeteer het in spanverband, het die klem nie juis geval op uitslae en puntetellings nie. Tog, ter wille van ander sosiale spelers wat nie teenwoordig was nie, word die uitslae wel aangedui.
Altesaam ses ingeskrewe spanne het kragte gemeet en wel onder die name van gesoute ervare spelers.
Die finale puntestand is: (Punte in hakies - die punte word aangedui onder die name van die leiers van die onderskeie spanne)
Span D – Sydney Stopforth (29); E – Pieter van Straten (24); C – Dolf Barnard (23); A – Ewie Engelbrecht (22); B – Bossie Boshoff (18½); F - Johnny Coetzee (18½).
Verskeie prestasietrofeë is toegeken, onder andere aan spelers van die dag waaronder Peter Morell, Malie Pienaar en Johan Joubert. Die geesdrif onder spelers is groot en 'n volgende byeenkoms word in die nabye toekoms beplan.
Wenspan: Faan Gerber, Peter Morell, Sydney Stopforth en Elias Burger.
Toekennings aan spelers: Voor: Malie Pienaar. Agter: Peter Morell, Bossie Boshoff en Johan Joubert.
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus."