MOSSELBAAI SPORTNUUS - Maande lank reeds is daar uitgesien na die nuwe jukskeiseisoen. Eensklaps bevind geesdriftige juskeispelers hulle op die goedversorgde bane van Hartenbos. Die opening van die seisoen het op 15 September afgeskop.
Vanaf George, Riversdal en Hartenbos het spanne opgedaag met slegs een doelwit voor oë en dit is om hierdie seisoen slegs hul beste te lewer en bo aan die punteleer te eindig.
Dat die roes van lank rus gedurende die wintermaande beslis nie oornag afgeskud kan word nie, was baie gou duidelik. Die penne, veral wegpenne is skraps geproduseer. Die tellings van 18, 20 en veral 21 bring al die swak punte na die oppervlak. Die natuurlike gevolg van 'n swak hou is uiteraard 'n bars. Dit wil sê wanneer 'n span 'n vierhou gooi pleks van 'n wegpen en sy telling dan op 24 eindig. Dit word 'n bars genoem en moet so 'n span weer vanaf nul oor begin, hartverskeurend en teleurstellend.
Daar was egter die spanne, veral van Hartenbos wat min swak houe gelewer het, omdat hulle reg deur die winter steeds hul jukskei beoefen. Gevolglik het die A- en C-span eerste in hul afdelings geëindig met die B-span in die derde plek. Die seisoen strek egter oor 'n lang periode en eindig eers in Maart 2019. Daar is dus heelwat tyd om te herstel en nederlae te omskep in oorwinnings.
Punte
Die finale puntestand is soos volg:
Die A-span van Hartenbos kompeteer in die B-afdeling aangesien George en Riversdal slegs oor B- en C-spanne beskik.
B-Afdeling:
Hartenbos A (42); Riversdal B (33); Hartenbos B (26½); Mosselbaai B (24½); George B (23).
C-afdeling:
Hartenbos (45½); Riversdal C1 (41½); Riversdal C3 (29); Riversdal C2 (27½); Mosselbaai C (6½). Laasgenoemde span van Mosselbaai bestaan uit beginners. Daarom hul swak prestasie.
Môre Saterdag, 22 September word die tweede ronde ligawedstryde op Riversdal gespeel. Die opening vind plaas om 08:00.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'