TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Ligawedstryde in jukskei word lankal nie meer volgens die voorgeskrewe seisoenprogram gespeel nie.
Toernooie word deesdae lukraak beplan afhangende van spelers se gesondheidstoestand, maar ook om uitvoering te gee aan voorgeskrewe inperkings wat maskers, sosiale afstande, temperatuurmetings en handewas insluit.
Verlede Saterdag het Hartenbos 'n jukskei-dagtoernooi aangebied. Spelers verteenwoordigend van klubs sover as Stilbaai, Riversdal en Mosselbaai, asook die Hartenbos-klub het deelgeneem.
Om die speelprogram aantreklik en uitdagend aan te bied, is daar op die trips- en gewone spanspel in die B-afdeling gekonsentreer. In die C-afdeling is op dubbels- en spanspel gefokus.
In die B-afdeling se tripsformaat (drie spelers per span) het Hartenbos gemengde welslae behaal, met Hartenbos B2 in die eerste plek en Riversdal in die tweede plek met slegs 'n ½ punt bo Hartenbos se B1-span. In die spankompetisie het Hartenbos B2 en B1 die bordjies verhang en die eerste twee plekke ingeneem, met Riversdal in die derde plek.
Die spanne het in beide die span- en tripsformaat mekaar deeglik opgekeil. Heelwat penne het geklap en goeie berekende afrondingshoue is uitgestal.
In die C-afdeling het Mosselbaai in die C1-afdeling dubbels, sowel as die C2-afdeling koning gekraai en eerste plekke in beide verower. In die spanspel is die bordjies verhang en was Stilbaai die wenner met Hartenbos tweede en Mosselbaai in die derde plek.
Kenmerkend in beide die spanspel (vier spelers per span) en in die trips was die klein punteverskil tussen die eerste, tweede en derde plekke duidelik waarneembaar. Dit dui op 'n goeie balans in die verskillende spansamestellings.
Die puntestand is soos volg:
B-afdeling:
Hartenbos deel sy A-span spelers in twee spanne op, ter wille van eweredige wedywering.
Trips: Hartenbos B2 (31); Riversdal B (23½); Hartenbos B1 (23); Hartenbos B3 (12½).
Spanspel: Hartenbos B2 (21); Hartenbos B1 (12½); Riversdal (11½).
C1 dubbels:
Mosselbaai (32½); Hartenbos (24); Stilbaai (20½); Riversdal (13).
C2 dubbels:
Mosselbaai (25½); Riversdal (24); Hartenbos (24); Stilbaai (16½).
C-afdeling spanspel:
Stilbaai (26); Hartenbos (24½); Mosselbaai (22½); Riversdal (17).
Op 27 Maart bied die Oostelike Provinsie 'n een dag jukskeitoernooi op Despatch aan. 'n Aantal spanne vanuit Eden-distrik vertrek op 26 Maart om aan die toernooi deel te neem. Henry Gerber, president van Eden-jukskei en sy medespelers word sterkte en voorspoed toegewens met hierdie uitwaartse poging juis in hierdie inperkingsperiode. Mag die penne klap, die wiele rol en die skeie hul regte plek in die sandput vind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'