TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Die laaste ligawedstryde in die Eden-jukskeidistrik is die afgelope Saterdag op Riversdal se goed versorgde bane gespeel.
Spelers vanaf Hartenbos, Mosselbaai en Riversdal, sowel as enkeles vanaf Boggomsbaai en Groot-Brakrivier het hul vaardighede kom uitstal.
Soos gewoonlik het die spanne van Hartenbos uitstekend gevaar en kon hulle in die B- en C-afdelings koning kraai. Die klub beskik oor spelers van provinsiale gehalte in die B- en C-afdelings van die spel. Hulle spog ook die dienste van 'n Springbok, naamlik Elna van den Berg.
Hartenbos B1 het met 'n skrale twee punte bo Hartenbos B2 in die eerste plek geëindig. In die B-afdeling het 'n strawwe kompetisie geheers sonder enige wegholoorwinnings onder die eerste twee plekke.
Mosselbaai C en Riversdal het beide met 31 punte in die derde plek geëindig. In die B-afdeling is verskeie skofte egter nie aangeteken nie as gevolg van hetsy verkeerde besluitneming of selfs enkele houe wat swak uitgevoer is.
In die C-afdeling was die stryd eweneens taai en was daar 'n klein verskil in punte onder die eerste vier spanne. Hartenbos se C1 span het tog die teenstanders deeglik beproef en het met goeie afronding bo-aan die kompetisie geëindig.
Hartenbos se span, Ewie Engelbrecht, Malie Pienaar en Chris Viljoen, was 'n gedugte kombinasie en het behoorlik onder die teenstanders ingeklim om as wenners uit die stryd te tree.
Die puntestand is soos volg:
Die dag se spel is op die driemanformaat of trips gespeel sodat meer wedstryde kon inpas en om meer strawwe mededinging te bewerkstellig.
B-afdelings: Hartenbos B1 (60); Hartenbos B2 (58); Mosselbaai (31); Riversdal (31).
C-afdeling: Hartenbos C1 (52½); Riversdal C1 (44½) ; Mosselbaai (42½); Hartenbos C2 (40½); Hartenbos C3 (31½); Riversdal C2 (14½).
Môre, 17 April om 09:00 word die Eden-jukskeidistrik se algemene jaarvergadering gehou aan huis van Henry Gerber, huidige president van Eden-jukskeidistrik, in Parkstraat 11, Albertinia.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'