Dis amper weer tyd om jou tasse te pak vir 'n welverdiende vakansie. Het jy al 'n lysie opgestel van alles wat jy moet doen voor jy die deur agter jou toetrek en die sorge agterlaat?
Hier's drie lyste wat jou sal help onthou wat jy voor jou vertrek moet doen:
1. Voor ’n vlug
• Maak seker jou paspoort is nog geldig;
• Maak seker of jy ’n visum nodig het vir jou bestemming;
• Maak seker hoeveel bagasie jy mag saamneem en hoeveel jy vir ekstra bagasie of gewig moet betaal;
• Verwyder die ou identifikasiebandjies en vervang met nuwes;
• Laai elektroniese toerusting;
• Druk die vlugplan uit of plaas dit op jou selfoon;
• Bevestig die huur van ’n motor by jou bestemming;
• Bevestig verblyfbespreking;
• Reël iemand om jou lughawe toe te neem en te gaan haal;
• Wees betyds by die lughawe - een uur voor die tyd vir binnelandse vlugte, twee ure voor die tyd vir buitelandse vlugte.
2. As jy per motor reis
• Gaan die motorbande na en maak seker die loopvlak is goed en die banddruk is korrek;
• Maak seker die spaarwiel is bruikbaar;
• Maak seker jy het toerusting om 'n pap wiel te vervang;
• Laat die water en olie nagaan wanneer jy gaan brandstof ingooi;
• Maak seker jou ruitveërs werk;
• Toets jou remme en vervang betyds indien nodig;
• Laat iemand jou help om seker te maak die hoofligte, flikkerligte en remligte werk behoorlik;
• Maak seker jou voertuig se lisensiegeld is op datum;
• Maak seker jou noodhulpkissie is volledig en ingepak;
• Pak ekstra water, ’n flits en ’n padkaart in.
3. Voor jy die huis verlaat
• Kanselleer aflewering van koerante en posstukke;
• Reël met iemand om gereeld gemorspos te verwyder;
• Lig jou bure, vriende en familie in oor hoe lank jy gaan weg wees;
• Verskaf 'n telefoonnommer waar hulle jou kan bereik indien nodig;
• Reël dat iemand jou troeteldiere versorg;
• Maak seker alle krane is dig toegedraai - ook die buitekrane; 1 2
• Skakel die geiser, stoof en enige ander toerusting af en trek die prop uit;
• Maak seker die ligte is afgeskakel;
• Maak seker die vensters, deure en veiligheidshekke is dig toe;
• Maak seker die alarmstelsel is geaktiveer.
• Los 'n sleutel by 'n vriend wat tuis is en vra dat hy gereeld gaan inloer. Jou geiser kan dalk bars...