MOTORSPORT - Petrus Botha van Graaff-Reinet se 1972 Chevrolet C10 bakkie sal op 8 en 9 Februarie by die George-oumotorskou vir motorliefhebbers brul.
Botha het drie jaar gelede die unieke bakkie by sy eerste en enigste eienaar, Hendrik Ackerman, gekoop. Hy sê die bakkie is vir hom baie spesiaal, aangesien hulle ewe oud is.
Hy beskryf homself nie as 'n motorversamelaar nie, maar iemand wat verslaaf is aan die reuk van brandstof en motors. Sy motors sluit 'n Toyota Hilux, waarin hy 'n V8-masjien ingebou het, asook 'n VW Caddy met 'n twee-liter GTI-masjien in. Die 1972 Chevrolet is egter die oudste van sy ou motors.
'n V8-masjien is ingebou.
Met 'n Jaguar-onderstel en 'n 350 turbine ratkas, brul die Chevie nie net harder nie, maar teen 'n spoed van 170 km/h raak sy moeilik beheerbaar. Hiervoor het hy die bakgedeelte van die bakkie met dwarslêers uitgelê om haar swaarder te maak, wat sorg dat sy makliker op 'n hoë spoed op die pad bly. Daar is nog nooit enige paneelklopwerk aan die bakkie gedoen nie.
Die blou kleur is ook oorspronklik, presies hoe Botha verkies om die bakkie se buitekant vir die res van haar lewe te hou. "Ek verander egter altyd iets aan die bakkie. Ek sal nooit klaar wees nie," sê hy.
Kyk 'n video hieronder
Botha vertel die verste wat hy nog met die Chev gery het is ongeveer 50 km. Die pad na die George-oumotorskou in Februarie sal die verste wees. "Ek gaan haar aan die mense daar voorstel," sê Botha. Dis juis by dié skou wat hy ander motors van nader wil bekyk, om te sien wat en waar hy nog veranderinge aan sy geliefde Chevie kan aanbring.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'"