MOSSELBAAI NUUS - Vier Malawiese burgers is uiteindelik gister, 8 Mei, gevonnis na hulle sedert Oktober 2023 al in aanhouding was.
Dayton Duwa, William Guabe, Mhane Kennedy en Hasan Deason het op die ontvang van gesteelde goedere skuldig gepleit.
Die polisie het op 29 Oktober 2023 verskeie gesteelde items in elk se besit gevind, insluitende beursies, selfone, horlosies, ’n TV, ’n tablet, ’n skootrekenaar, bankkaarte, sonbrille en paspoorte.
Hulle het al vier gesê dat ’n persoon, wat glo aan hulle bekend is, die goedere na hulle onderskeie slaapplekke in KwaNonqaba gebring het, en erken dat hulle geweet het die goedere is gesteel.
Hul skulderkentenis volg ná uitstel op uitstel van die saak, talle kere weens die gebrek aan tolke. Twee tolke was vir die saak nodig, een vir Tsonga (uit Kaapstad) en een vir Chichewa (uit Johannesburg).
Die landdros het hulle tot ’n boete van R5 000 elk of 12 maande tronkstraf, opgeskort vir drie jaar, gevonnis.
Na wat verneem word sal hulle nou gedeporteer word, omdat hulle boonop onwettig in die land is. Daar is glo ook ’n lasbrief uit vir minstens een van die vier weens sy beweerde betrokkenheid by ’n voorval in die Kaapstad-omgewing.
Vorige artikels:
• Hofvertragings wek kommer, departement reageer
• Saak wéér uitgestel, dié keer weens tolk se bustyd
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’