MOSSELBAAI NUUS - 'n Saak wat nou al meer as 15 keer sedert Oktober 2023 in die Mosselbaai-landdroshof gedien het, is wéér verlede week uitgestel.
Vier Malawiese burgers, Dayton Duwa, William Guabe, Mhane Kennedy en Hasan Deason, is in Oktober 2023 in hegtenis geneem - daar is drie sake vir huisbraak en een vir besit van gesteelde goedere teen hulle.
Die beskuldigdes is borg geweier omdat hulle onwettige immigrante is, en is sedert hul inhegtenisname in aanhouding.
Mossel Bay Advertiser het in Maart oor die saak berig ná lede van die veiligheidsgemeenskap hul kommer oor die sloer van hofsake oor die algeneem uitgespreek het.
Hulle het dié saak as voorbeeld gebruik en genoem dat tolke glo dikwels een van die redes vir die vertragings is.
Vir dié saak is twee tolke nodig, een vir Tsonga (uit Kaapstad) en een vir Chichewa (uit Johannesburg).
Beide die tolke was teenwoordig in die hof, maar die verrigtinge kon nie voortgaan nie omdat die Tsonga-tolk om 14:30 'n bus terug Kaapstad toe moes haal.
Sou dit nie hiervoor wees nie, het die landdros gesê, sou die saak kon voortgaan, daarom was sy bereid om dit weer uit te stel. Die getuies was ook teenwoordig.
Die nodige partye het in die hof gesê hulle is almal weer op 8 Mei beskikbaar, wanneer die saak na verwagting sal voortgaan.
Die landdros het gesê sy gaan nie al die getuies waarsku om op daardie datum weer in die hof te wees nie, aangesien dit onwaarskynlik is dat die hof by al die getuienis sal uitkom.
Vorige artikel: