MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep eiendomseienaars in die Santos De Bakke-gebied, wat van mening is dat die veiligheid van die gebied opgeskerp moet word, het onlangs 'n proses geïnisieer om die area as 'n spesiale aanslaggebied (SAG) te laat verklaar.
Sou die projek goedkeuring van die meerderheid van eienaars ontvang, sal inwoners van die gebied 'n tarief maandeliks betaal gebaseer op die munisipale waardasie van hul eiendom.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het bevestig dat hy bewus is van die huidige proses.
Volgens die munisipaliteit is die proses wat gevolg word as volg: 'n aansoek mag deur 'n geregistreerde eienaar in die voorgestelde gebied aan die munisipaliteit gemaak word vir die stigting van 'n SAG. Dié aansoek moet, onder meer, deur 'n implementeringsplan en begroting vergesel word.
"Dit moet daarop gelet word dat 'n publieke deelname proses ook gevolg sal word en dat die munisipale raad enige kommentaar in verband met die aansoek sal oorweeg."
Sommige inwoners is egter nie ten gunste van die projek nie, en het hul kommer daaroor aan die Mossel Bay Advertiser genoem.
Volgens Harry Hill, een van die komiteelede vir die projek, word daar vir ongeveer vier maande al aan die projek beplan.
Buiten die feit dat die heffing 'n ekstra uitgawe sal wees, was daar ook onsekerheid oor hoe dié geld aangewend sal word. Op 'n vraag oor of daar 'n aanduiding is waarvoor presies die geld aangewend sal word, het Hill die volgende gesê:
"As die raad die SAG goedkeur, gebaseer op die instemming van 'n meerderheid van die eiendomseienaars in die gebied, sal 'n Art 21-maatskappy ingevolge die Maatskappyewet gestig word. Dit sal 'n direksie verkies uit die geledere van die eiendomseienaars hê om die sake van die SAG te bestuur. Die maatskappy sal soos enige maatskappy aan formele oudits ingevolge die Maatskappyewet onderhewig wees, en ook onder die oorsig van die munisipaliteit se Direkteur van Finansies wees. Dit word voorsien dat die maatskappy omstreeks Maart 2024 sal begin funksioneer. Projekte en begrotings sal eers dan gefinaliseer word."
Hy sê die eiendomsbesitters bepaal die SAG of maatskappy se prioriteite, projekte en begrotings, en almal sal dus die geleentheid hê om insette te lewer.
Formele tariewelys
"Dit sal by die eerste algemene vergadering van die Art 21-maatskappy gedoen word. Die maatskappy dien dan sy begroting by die munisipaliteit in wat die tarief, bereken volgens die begroting van die maatskappy, in die munisipaliteit se formele tariewelys vir 2024/2025 sal insluit."Sommige inwoners meen ook, hulle betaal reeds sekuriteitsmaatskappye vir hul veiligheid, nou moet daar nóg betaal word. Hill sê die SAG se fokus sal die hele gebied wees, strate en openbare oop ruimtes ingesluit, in teenstelling met die sekuriteitsmaatskappye wat net dienste aan hul eie kliënte lewer.
"Dit word voorsien dat die sekuriteitskameras wat 'n belangrike element van die SAG se beplanning is, by die munisipaliteit se Gesamentlike Beheersentrum sal inskakel om die omgewing te monitor. As daar byvoorbeeld verdagte persone of voertuie in die gebied opgemerk word, sal die SAG met die polisie of 'n gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappy skakel om ondersoek te gaan instel, en dus potensiële misdade probeer voorkom."
Een inwoner, Eleanor Mitten, meen egter sy woon al meer as 30 jaar in die ongewing en het slegs een insident al by haar huis gehad.
Hill sê die proses om goedkeuring by inwoners te verkry is by die verpligte openbare vergadering op 31 Oktober aan die aanwesiges verduidelik, maar e-posse met stembriewe asook inligting oor die voorgenome SAG is aan alle eienaars met e-posadresse gestuur. Hy sê dit is ongeveer 90% van die eienaars in die gebied.
Stembriewe
"Die fasiliteit is aan hulle gebied om hul stembriewe per e-pos terug te stuur of by enige lid van die loodskomitee in te dien. Mense is ook op WhatsApp-groepe oor die prosesse ingelig, terwyl komiteelede ook mense besoek as hulle toegang tot die eiendomme kan verkry.
"Meer as 50% van die eiendomseienaars moet instem tot die verklaring van die gebied tot 'n SAG, waarna die heffing op al die eiendomme in die gebied van toepassing sal wees."
Daar was ook kommer oor die tydperk, met die keerdatum, 31 Desember, om die draai.
Hill sê die proses val saam met die munisipale boekjaar. "As die SAG nie betyds vir die munisipaliteit se 2024/2025 boekjaar met ingang 1 Julie 2024 ingestel word nie, sal dit, as die proses nie in hierdie boekjaar afgehandel word nie, eers met ingang 1 Julie 2025 in werking kan tree. Dit maak die proses te lank."
Die munisipaliteit sê hy ondersteun enige inisiatief vanaf die gemeenskap om 'n SAG te stig siende dat dit sal bydra tot die verbetering en opgradering van die area tot voordeel van alle eienaars.
Verwante artikel: Santos De Bakke word dalk spesiale aanslaggebied
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’