MOSSELBAAI NUUS - Vier jong seekadette verbonde aan die TS Outeniqua gaan binnekort Mosselbaai se naam in Amerika hoog hou.
Die vier jong manne moet egter self instaan vir die bykans R30 000 per persoon wanneer hulle op 24 Junie na Rhode Island in die VSA vertrek.
Die uitruilprojek is egter 'n unieke geleentheid vir bevare seeman Garth Drude, bevare seeman Ferbiano Taylor, seeman Yahyaa Adams en bevare seeman Clintonio Vallentyn, wat as gaste van die internasionale seekadetuitruilprojek by die VSA-vlootbasis op Narragansettbaai, Rhode Island, sal tuisgaan.
Dit staan allerweë as die geboorteplek van die VSA Vloot bekend.
Die bevelvoerende offisier van die TS Outeniqua, sub-luitenant Thurston Amsterdam, sê die groep jongmense is opgewonde oor die unieke geleentheid om as deel van 'n internasionale uitruilgroep nie net die kultuur van ander lande te leer ken en ervaar nie, maar ook om blootgestel te word aan die werkende vlootbasis waar hulle sal tuisgaan.
Die TS Outeniqua is baie trots op die prestasie van die vier jong seekadette wat aan die uitruilprojek gaan deelneem.
Enige persoon wat 'n bydrae kan maak om te help om hul koste te delg, kan sub-luitenant Thurston Amsterdam (082 407 6888) kontak.
Die bevelvoerende offisier van die TS Outeniqua, sub-luitenant Thurston Amsterdam, is trots op bevare seeman Garth Drude, bevare seeman Ferbiano Taylor, seeman Yahyaa Adams en bevare seeman Clintonio Vallentyn, wat binnekort aan 'n uitruilprogram na die VSA vertrek. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'