MOSSELBAAI NUUS - Planne om 'n afgebakende gebied, wat feitlik die hele Santos- en De Bakke-woongebiede insluit, tot 'n spesiale belastingaanslaggebied (SAG) verklaar te kry, vorder goed en aansienlike steun vir die proses is verkry op die eerste openbare vergadering, wat op 31 Oktober 2023 in die Mosselbaaise stadsaal gehou is.
Sowat 50 mense het die vergadering bygewoon.
Die belangrikste beweegrede om die gebied tot 'n SAG verklaar te kry, is om fondse te genereer deur middel van 'n spesiale heffing op munisipale eiendomsrekeninge om onder meer veiligheidskameras dwarsdeur deur die betrokke gebied, en ook veiligheidsheinings op sekere plekke, te laat installeer.
Dit word beoog om die kameras by die munisipaliteit se Gesamentlike Beheersentrum ingeskakel te kry vir monitering. Die belangrikste oorweging vir die projek in hierdie stadium is om die gebied veiliger te maak na aanleiding van die verslegtende misdaadsituasie in Suid-Afrika.
Fondse wat deur middel van so 'n heffing verkry word, kan ook vir ander moontlike opgraderingsprojekte, soos deur die eiendomseienaars besluit, aangewend word. Projekte vervang nie munisipale dienste nie, wat steeds deur die munisipaliteit gelewer sal word.
Keerdatum
Ten einde tot 'n spesiale aanslaggebied verklaar te word, moet 'n meerderheid van die 238 eiendomseienaars in die gebied skriftelik daartoe instem. Die keerdatum hiervoor is 31 Desember 2023.
As die Mosselbaaise stadsraad die SAG, insluitende die implementeringsplan en begroting, goedkeur, sal die fondse aan 'n nie-wins maatskappy oorbetaal word vir die uitvoering van die projekte. Die maatskappy sal bestuur word deur 'n direksie wat uit die geledere van die eiendomseienaars in die gebied verkies sal word.
Dit sal soos enige maatskappy aan jaarlikse ouditvereistes moet voldoen, en gereelde verslae sal aan die munisipaliteit se direkteur van finansies gelewer moet word.
Heffing
Die heffing per eiendom sal op die munisipale waardasie van die betrokke eiendom gebaseer wees.
Gebaseer op 'n voorlopige begroting van R595 000 vir die eerste jaar, sal die heffing R0,000088 in die rand beloop. Op 'n eiendom met 'n munisipale waardasie van, byvoorbeeld, R2 750 000, sal dit R240,68 per maand wees. Die goedgekeurde tarief word dan in die munisipaliteit se jaarlikse tariewelys gepubliseer.
As dit goedgekeur word, sal die SAG met ingang 1 Julie 2024 in werking tree.
Daar is reeds twee spesiale aanslaggebiede in Mosselbaai, naamlik die Sentrale Sakekern SAG en die Vintcent Park SAG. Spesiale aanslaggebiede staan ook as stadsverbeteringsdistrikte bekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’