RIETVLEIS NUUS - Magdalena Jones (42), ’n inwoner van Rietvlei buite Mosselbaai, is Sondag in ’n ongeluk op die N2 tussen Albertinia en Mosselbaai oorlede.
Volgens sers. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was daar twee Volkswagen Polo’s betrokke.
“’n Voorlopige ondersoek toon dat een voertuig stilgestaan het toe dit van agter deur die ander getref is.” Die ongeluk het om 16:00 by die afdraai na die Rietvlei-plaas plaasgevind.
In die stilstaande Polo het Jones verskeie ernstige beserings opgedoen en die paramedici het haar op die toneel dood verklaar.
Die KwaNonqaba-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Jones se dogter, Jayme-lee, het namens die gesin ’n huldeblyk gelewer. Sy sê Magdalena se familie en vriende sal haar onthou vir die liefdevolle moeder en vriendin wat sy was.
Jamey-lee, Magdalena en Jay-lee Jones.
“Sy het altyd tyd gemaak vir ander mense en waar sy gekom het, het mense haar herken aan haar skel. Sy het altyd geskel, maak nie saak oor hoe klein ’n ding dit was nie. Sy het geskel omdat sy omgee en lief was vir mense, so sy’t hulle geskel tot hulle luister.”
Jayme-lee sê was lief vir gesels en was ook ’n terggees.
“My kompas, my steunpilaar, ek gaan jou verskriklik mis. Dankie dat jy jou gesin altyd op jou hande gedra het en altyd eerste gestel het. Jou plekkie hier by ons sal nou leeg wees. ’n Boom soos jy, uit hemelhout gesny, was die anker in ons lewe en ons sal floreer in jou skaduwee.”
Sy was altyd spoggerig, ’n planmaker, ’n heldin en iemand wat haar man, Deon Kiewiet, en haar kinders, Jayme-lee, Saskia en Jay-lee, nooit sal vergeet nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’