MOSSELBAAI NUUS - Kommersiële oesterpermithouers se permitvoorwaardes is in gedrang.
Dit volg nadat die Staatskoerant op 13 Mei 'n artikel geplaas het waarin kommersiële permithouers in kennis gestel is dat hulle permitte eersdaags opgeskort sal word.
Die departement van landbou, bosbou en visserye stel voor dat kommersiële permithouers dan oorgeplaas sal word na kleinskaalpermitte. Hierdie oorskakeling sal permithouers en hul gesinne onmiddellik onder finansiële druk plaas.
Permithouers wat tans oesters vanaf Groot-Brakrivier tot Gouritzmond uithaal het tot 28 Junie om vertoë te rig. Die departement voer aan dat kommersiële permithouers die oesterbron uitwis. Dit word voorgehou as rede vir die opskorting.
Dringende vergadering
Intussen het oesterduikers op Woensdag, 12 Junie by die Eden Country Inn op Klein-Brakrivier bymekaargekom om 'n forum te stig wat die departement sal dagvaar oor die voorgenome besluit.
Minstens 35 oesterduikers het die vergadering bygewoon en hulle griewe oor die departement se voorneme gelug. 'n Permithouer, Hynn Munro het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat om op kleinskaal te oes, meer druk op die bron sal plaas. "Op kleinskaal word ons beperk tot slegs 30 oesters per dag. Tans kan ons 'n onbeperkte hoeveelheid oesters uithaal. As ons op kleinskaal werk, beteken dit ons kan die hele mandjie van spesies uit die see haal soos mossels, seekatte, rooi-aas en oesters. Dit sal die bronne onder groter druk plaas."
Nog 'n permithouer sê die bedryf is hulle enigste bron van inkomste. "Ek het 'n gesin en moet ons huishouding onderhou. Tans kan ons oesters uithaal en verkoop aan wie ons wil. Daar is egter reeds nie so baie geld in die oesterbedryf nie, so ons verkoop dit meestal aan ouens soos Hynn (Munro) wat dit berg en weer aan restaurante verkoop."
Tans is daar slegs 18 permithouers in die gebied oor. Daar was onlangs nog tot 145 permithouers maar die meeste permitte is reeds deur die staat opgeskort.
Oesterduikers sonder permitte
Verskeie oesterduikers wat by die vergadering was se permitte is reeds weggevat. "Voor dit was ons 54 oesterduikers op Mosselbaai," sê Munro. Oesterduiker Leon Smith sê hy het op Klein Brak grootgeword en sy permit van sy ma geërf, maar dit is ook intussen van hom weggevat. "Ons mag dus nou nie werk nie."
Volgens nog 'n oesterduiker, Charles van der Merwe word 'n kleinskaalpermit nie noodwendig slegs aan 'n individu uitgereik nie. "Jy moet 'n maatskappy vorm aan wie al die kleinskaalpermithouers behoort, maar dit is 'n groot administrasieproses en wie sal die ouditkostes dek? Die staat is besig om 'n klein gemeenskap onder geweldige druk te sit."
Die oesterduikers vra gemiddeld R5 per oester en verdien 'n gemiddelde inkomste van tussen R4 000 en R5 000 per maand. Nog 'n oesterduiker sê hulle het slegs 'n sekere hoeveelheid uur per dag om oesters uit te haal. "Oesters is soos vrugte. Mense eet dit meer gereeld in die somermaande. Dit is wanneer ons geld maak. Die oesterbedryf hang af van die wind, die grootte van die see en die maan."
Duikers dreig om te stroop
"As ons slegs op kleinskaal mag oes, moet ons in 'n beperkte tyd meer bronne uit die see haal wat wyd verspreid is waar ons nou meer geld kan maak deur slegs op die oesters te fokus."
'n Oesterduiker wat op Klein-Brakrivier woon en wie se permit weggevat is, sê die besluit van die departement het hom genoodsaak om te stroop.
"Ek het nie 'n ander keuse as om nou te 'steel' nie, want ek het nie 'n ander werk nie en moet my gesin versorg."
Ander oesterduikers wat tans wel permitte het, het tydens die vergadering aan die Advertiser gesê indien hulle kommersiële permitte opgeskort word, hulle oesters gaan stroop. "Dit is al uitweg vir ons. Om te stroop, want dan het ons geen permitvoorwaardes nie en almal kan 'n inkomste verdien. Tans probeer ons binne die grense van die wet bly maar ons het ons inkomste bitter nodig en die meeste van ons is nie opgelei om enigiets anders te doen nie."
Die oesterduikers wat die dringende vergadering op Klein-Brakrivier bygewoon het.
Charles van der Merwe se kommersiële oesterpermit is reeds in 2003 opgeskort.
Cornelius (Kerneels) Munro wys die lys van oesterduikers aan die Tuinroete wie se permitte intussen opgeskort is.
Leon Smith het nie meer 'n permit nie en het nou geen bron van inkomste nie.
JJ Erasmus se permit is ook van hom weggevat en hy sê hy sukkel nou om sy gesin te onderhou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'