MOSSELBAAI NUUS - Drie plaaslike kliënte van Moss Irrigation - Irrigation and Curbing op Mosselbaai sê hulle wag steeds op terugbetaling van hul deposito's ná dié onderneming sy deure gesluit het.
Marius Krige, Jaco Kotze en Rose Stander wag onderskeidelik op hul deposito's van R11 000, R12 700 en R17 675.
Hulle het almal gedurende Januarie 'n brief ontvang, deur die eienaar, Albertus Brink, onderteken, wat hulle meedeel dat die maatskappy sy deure op 13 Januarie sou sluit.
Volgens die brief kon hulle hul deposito's op 17 Januarie terug verwag, maar hulle sê hulle het tot op hede nog niks ontvang nie.
Al drie sê hulle het al herhaaldelik met Brink in kontak probeer kom, maar kry geen antwoord per e-pos of op die foon nie.
In antwoord op 'n navraag van Mossel Bay Advertiser aan die begin van Maart het Brink gesê: "Van 2016 af het 9 000 kliënte Moss Irrigation betaal en diens gekry sonder 'n klagte." Hy sê weens 'n probleem wat 'n senior personeellid ontwikkel het, is die onderneming noodgedwonge gesluit. Volgens hom was die finansiële jaareinde op 28 Februarie en sou die kliënte hulle geld ontvang sodra die 'boeke voltooi is'.
Ná die Advertiser hom op Woensdag, 2 April, in kennis gestel het dat die publikasie met die artikel oor die deposito's voortgaan, het hy gesê dat die betalings vir "komende Vrydag" beplan is.
Krige, Kotze en Stander het egter hierdie week bevestig hulle het nog nie hulle geld ontvang nie.
Die kliënte sê die regskoste van 'n siviele saak regverdig nie vir hulle regsaksie nie, maar hulle wil graag hulle deposito's terughê aangesien geen dienste gelewer is nie.
Kotze het besluit om die ombudsman oor verbruikersgoedere en -dienste te nader in 'n poging om só sy geld terug te kry.
Volgens die jongste terugvoering wat hy van die ombudsman ontvang het, het hulle ook nog niks van Brink gehoor nie. Die ombudsman sê terugvoering sal verskaf word sodra hulle 'n antwoord kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’