MOSSELBAAI NUUS - Dis nie aldag dat jy 'n man in 'n trui wat hy sélf gehekel het sien nie.
Jan le Roux, 'n inwoner van Island View, is só 'n man. Hy is 76 jaar jonk en het in die winter van ongeveer 1961 al begin hekel - daardie jaar was hy 'n plattelandse jongeling van slegs 11 jaar oud.
"In die Karoo is dit koud en donker in die kombuis waar die stoof begin afkoel, en almal sit om die kombuistafel met 'n paraffienlamp vir lig. Toe het my ou moedertjie, Malie, al ons kinders geleer hekel om ons net besig te hou," vertel hy.
En hy het maar net nooit opgehou met hierdie stokperdjie nie.
As Le Roux nou terugdink, is die eerste hekelherinneringe wat hy oproep die koue, die bewerigheid weens die koue, en die konsentrasie. Met dít in gedagte maak sy destydse tweede gehekelde item ook heeltemal sin.
Die eerste was 'n blokkie, "en daarna 'n mussie ('n groene, soos 'n balaklawa) om oor my kop en ore te trek as ek agter op die bakkie van die plaas (Zuurland) na die dorpie Williston in die Boesmanland op pad skool toe moet ry". Dié bondgenoot vir die koue sê hy is sy gunstelingskepping.
Deesdae werk Le Roux aan verskillende items van sakke tot sy eie trui, en hy probeer kleure saamvoeg vir die diepte-illusie.
Die detail in een van Jan le Roux se skeppings. Foto: Verskaf
Dis moeilik om te sê hoeveel bolle wol hy al oor die afgelope 65 jaar kafgedraf het, maar sy antwoord gee miskien 'n redelike aanduiding: "Hoeveel brode het jy vir die laaste 10 jaar geëet...?"
En as jy Le Roux vra wat hy te sê het oor die algemene persepsie dat hekel 'n vrouestokperdjie is, draai hy nie doekies om nie. "Soos vrouens met arc welders kan werk, kan mans hekel, al is hulle hande dalk skurf; hulle kan ook roompies aansmeer."
As jy sukkel met konsentrasie, reken hy jý kan dit ook maar probeer. "Gryp 'n hekelpen en begin met rye en rye kettingsteke, en tel elke steek tot jy deurmekaar raak en begin weer voor."
En die belangrikste: "Moet tog nie skaam wees nie, want jy raak skaam vir jouself, nie vir ander mense nie!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’