MOSSELBAAI NUUS - Dit was instink wat hom na die voertuig van die vermiste Julius Verhoog (68) gelei het. So sê 'n veldwagter van CapeNature, Richard James (30) nadat hy op Maandag, 21 Junie op die wrak van die grys Citroën in 'n verlate gebied by die Robinsonpas op die R328 afgekom het.
Richard en 'n kollega, Bruney Plaatjies was omstreeks 11:00 besig met patrollie in die gebied, toe Richard 'n voertuigonderdeel langs die pad gesien het.
"Ek het rondgekyk en 'n entjie afgestap toe ek 'n voertuiglig sien. Ek en Bruney het besluit om nog verder te verken, omdat dit vir ons buitengewoon was en het toe op glasstukke in die veld afgekom."
Richard sê hulle het instinktief geweet dat dit nie 'n normale vonds is nie.
"Ons het gedink daar was dalk 'n ongeluk en het toe verder die gebied verken waarna ons op die wrak van die voertuig afgekom het."
LEES: Vermiste man se voertuig gevind
Richard sê hulle het 'n liggaam in die voertuig gesien en dadelik die polisie en sy bestuurder by CapeNature in kennis gestel.
Verhoog is laas op 28 Februarie in die voertuig gesien.
Die wrak van die Citroën is onder in 'n kloof by die Robinsonpas ontdek, ongeveer 42km van Mosselbaai af.
Die Mossel Bay Advertiser het kort na sy verdwyning met sy vrou van die afgelope 47 jaar, Hantie Verhoog gesels.
Op die dag van sy verdwyning was hy in die stort waarna Hantie hom gegroet het om 'n afspraak by 'n skoonheidsalon na te kom. Dit was die laaste keer wat sy hom gesien het.
Hantie wou nie die afgelope week aan die Advertiser kommentaar lewer nie.
Da Gamaskop-polisie se kommuniksiebeampte, kapt Wollie Fourie sê nooddienspersoneel het die liggaam uit die wrak verwyder.
'n Dossier vir 'n geregtelike doods-ondersoek is geopen.
DNS-toetse, asook 'n lykskouing sal gedoen word om die identiteit van die oorledene te bepaal.
Julius Verhoog se grys Citroën waarin hy die laaste keer lewend gesien is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'