Update
MOSSELBAAI NUUS - Sy's weer op haar voete, sy't 'n splinternuwe glimlag, en sy's nog altyd aan die sing en skryf.
Anke du Preez (18) is 'n belowende plaaslike musikant en 'n matriekleerder aan Hoërskool Punt. Ná 'n verskriklike motorfietsongeluk in Augustus, waarin sy beserings aan haar bekken, arms, bene, gesig en longe opgedoen het, is sy weer aan die gang; én boonop vars van die verhoog af!
Sy het op Donderdag 19 November in Hartenbos vir die eerste keer ná die ongeluk opgetree.
Weens die ernstige aard van haar beserings is sy aanvanklik in 'n medies geïnduseerde koma geplaas sodat haar brein kon herstel. Sedertdien vorder haar herstel goed en ontvang sy fisioterapie.
Kort voor haar terugkeer na die verhoog het Anke 'n gedaanteverwisseling ondergaan, danksy die vrygewigheid van die Mosselbaai- en George-gemeenskap, asook 'n paar plaaslike ondernemings.
Anke du Preez ’n paar dae voor haar eerste optrede ná die ongeluk. Foto: Gabriélla Siebritz
Sy het 'n tandheelkundige prosedure ondergaan om haar tande, wat tydens die ongeluk beskadig is, te herstel. Dit is by 'n tandartspraktyk en tandheelkundige laboratorium in George gedoen.
Sy is ook bederf met 'n opknapping by 'n haar- en skoonheidsalon.
Haar herstelpad en die betrokke rolspelers (insluitend Bek-a-buddy, Neodent South Africa, dr. Johnny de Lange, dr. JS van Heerden, Dencor Dental Lab, Vrou Skoonheidsalon, dr. Elisha van Heerden, Michelangelo Hair) is ook op die Bek-a-buddy-Facebook-blad gedeel. Bek-a-buddy is 'n skarefinansiering vir tandheelkundige versorging.
Anke du Preez se tande voor dit reggemaak is. Fotobron: Bek-a-Buddy/Facebook
"Toe my tande reggemaak is, het ek dadelik soos 'n nuwe mens gevoel. Dit lyk en voel wonderlik," sê Anke.
Sy het aan Mossel Bay Advertiser vertel dat sy beslis senuweeagtig was om weer op die verhoog te staan, veral omdat sy weens die aanpassing by haar nuwe tande 'n ligte spraakbelemmering ervaar.
Hoewel Anke vir 'n paar maande nie opgetree het nie, is haar kitaar altyd byderhand, en sy het al vyf nuwe liedjies geskryf. Sy kry inspirasie uit haar ervarings ná die ongeluk en die alledaagse lewe om haar.
"Ek kan byvoorbeeld by my kamervenster uitkyk en 'n mooi blommetjie sien, en dit sal genoeg inspirasie vir my wees," sê sy.
Anke skryf waar sy ook al kan, maar meestal in haar slaapkamer, by die strand of by 'n gemeenskapsruimte naby haar huis in Klein-Brakrivier.
"Ek stap in, bestel 'n R5-Coke en begin sommer skryf."
Sy het sedert die ongeluk baie oor haarself geleer, en sê haar geloof het sterker geword. Dit was 'n positiewe dryfveer terwyl sy aanpas by die lewe met 'n stut in haar been en tydelike geheueverlies.
Anke se nuwe tande. Fotobron: Bek-a-Buddy/Facebook
Anke sê met selfvertroue dat sy glad nie bang is om weer op 'n motorfiets te klim nie, en dat sy dit reeds twee keer gedoen het.
"My ma is 'n bietjie bang, maar ek is nie. Ek het geen PTSV nie," sê sy. "Hoekom moet ek bang wees as dit in God se hande is?"
Haar debuutliedjie, "Vir 'n vrou", en die hervermenging (ofte wel remix) daarvan, wat verlede November op Spotify uitgereik is, het sedert die ongeluk aansienlik meer luisteraars gelok.
Anke het nou meer as 7 000 maandelikse luisteraars, en haar selfgeskrewe liedjie het tans meer as 133 000 luisterbeurte op Spotify.
Weens die ongeluk gaan sy haar matriekeksamen in Maart aflê. Sy sê sy beplan nie om verder te studeer nie, maar wil beslis 'n loopbaan in musiek volg.
Anke skryf haar liedjies gereeld in hierdie gemeenskapsruimte in Klein-Brakrivier. Foto: Gabriélla Siebritz
Vorige artikels:
- Jong Mosselbaaier stel haar eerste liedjie op Spotify vry
- Matriekleerder ernstig beseer in Mosselbaai-ongeluk
- Punt-matriekleerder in mediese koma ná ongeluk
- Anke vorder mooi, maar lang herstelpad lê nog voor
- New teeth, new me - Anke’s recovery still going well
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’