MOSSELBAAI NUUS - Die omstandighede van 'n bootramp wat tussen Saterdag en Sondag, 26 en 27 April, op die see naby Gouritsmond gebeur het - en minstens een lewe geëis het - bly steeds 'n raaisel.
Rikus Bester (47) en Robert John Hemphill (58), beide ervare vissermanne, se families het bekommerd begin raak toe hulle Saterdagaand nie teruggekeer het huis toe nie.
Die Nasionale Seereddingsinstituut van SA het Sondagoggend om 05:00 'n soektog van stapel gestuur en
Bester se liggaam op rotse naby die vissersboot, Zindago, se wrak duskant Gouritsmond gevind.
Bester was die pa van 'n gr. R-seuntjie en 16-jarige dogter. Teen saktyd het die soektog na Hemphill steeds voortgeduur.
Slegs gedeeltes van die boot is tydens Mossel Bay Advertiser se besoek aan die toneel die afgelope week gevind.
Rikus Bester het gereeld visgevang.
Robert Hemphill
Bester se vrou, Michelle, het intussen nog nie kans gesien om 'n huldeblyk oor haar man vir die Advertiser te gee nie.
Hemphill se vrou, Trish, het die media versoek om die familie hul privaatheid te gun.
Die Albertinia SAPD het intussen 'n geregtelike doodsondersoekdossier geopen. Geen begrafnisreëlings was teen die ter perse gaan nog bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’