TUINROETE NUUS - Die NG-gemeente van Herbertsdale bied môre, Saterdag 21 Oktober, weer hul gewilde Oktoberfees aan op Eloff Muller se plaas, Athlone, ongeveer 7km voor Herbertsdale. Aanwysings sal feesgangers by hul bestemming bring.
Die hoof attraksie gaan weer die vars vleis wees, wat teen baie billike pryse aangebied word.
Beeskookvleis is teen R60 per kilogram beskikbaar terwyl die maalvleis (R80 per kiligram), wors (R90 per kiligram) en skaapvleis (R80 per kilogram) ook nie te versmaai is nie.
"U weet self hoe duur die vleis tans is, en die Kersfeesseisoen is op hande! Kom koop vleis en maak u vrieskaste vol voordat die duur vakansie-seisoen u onkant vang," nooi een van die feesorganiseerders, Jan Labuscagne.
‘n Ander groot aantrekkingskrag is die heerlike kosse soos onder meer afval, potjiekosse, braaivleis, kerrieverkoek, roosterkoek, slap skyfies, pannekoek, basaarpoeding, koffie en tee. Die gebak is van hoogstaande gehalte en om die kleingoed besig te hou, is daar die kindertafel en springkasteel. Die marktafel bied baie om die spens te vul, sowel as lieflike geskenke vir die kerskouse.
Dit alles kan in die groot tent geniet word waar musiek ook vir vermaak verskaf sal word. Verversings soos koffie en tee, pannekoek en kerrievetkoeke sal reeds vanaf 09:00 beskikbaar wees, maar die basaar begin amptelik eers 10:00, wanneer die produkte te koop sal wees. Die deure na die vleistafel maak eers 11:00 oop.
Sportliefhebbers kan uitsien na toutrek en boogskiet.
"Kom geniet die dag saam met ons, en kuier saam met vriende wat u dalk daar kan raakloop."
Vir navrae, kontak Jan Labuscagne by 082 555 1466.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’