MOSSELBAAI NUUS - Die NG-gemeente Herbertsdale bied Saterdag 22 Oktober, vanaf 09:00, weer hul gewilde Oktoberfees op die plaas van Eloff Muller aan. Eloff se plaas is langs die Mosselbaai na Herbertsdalepad sowat 10km voor Herbertsdale geleë.
Eetgoed sal vanaf 09:00 te koop wees terwyl die vleis- en koektafels om 10:00 open.
Goeie gehalte wors (R90 per kg), maalvleis (R80 per kg), bees-kookvleis (R60 per kg), grootskaap (R80 per kg) en pakkies lamsvleis sal te koop wees.
Dit beteken dat feesgangers nie hierdie geleentheid moet misloop om hul vrieskaste voor Desember wanneer die familie en vriende kom kuier, vol te maak nie. Kaartfasiliteite sal by die vleistafels beskikbaar wees.
Die Oktoberfees is ook bekend vir die heerlike vars groente en ander lekker eetgoed soos kerrie en rys, afval, braaivleis en nog vele meer wat te koop aangebied sal word.
"Die tafels gaan ook kreun van die gebakte produkte en basaarpoeding," vertel Lappies Labuschagne wat een van die organiseerders is.
Basaargangers sal ook toutrekspanne in aksie kan sien.
"Sien jou daar vir 'n lekker plaasatmosfeer basaar/fees en indien jy meer oor hierdie geleentheid wil weet, kontak my by 082 555 1466," sê Lappies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'