MOSSELBAAI NUUS - Hoewel die onlangse raadbesluit verwelkom word vir die vestiging van 'n gesamentlike beheersentrum in Mosselbaai vir die hantering van gebeurlikhede wat gemeenskapsveiligheid bedreig, bevraagteken sommige partye onder meer die koste-implikasie daarvan.
Gebeurlikhede, soos die groot brand by Danabaai in Desember 2016, ook die Knysna-brande het die noodsaaklikheid van gesamentlike bestuur vanuit 'n geïntegreerde beheersentrum uitgespel.
Verskeie persele in Mosselbaai is vir dié doel ondersoek. Die geskikste hiervan is by die Mosselbaai-gholfklub, geleë op munisipale eiendom. Die oogmerk is om 'n bestaande, onvoltooide gebou koste-effektief op te knap en volgens die aanvaarde standaarde in te rig.
'Ten koste van armes'
Die voorgestelde oorbetaling vir die vestiging van die sentrum, beloop R800 000. Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag gesê dat daar nog nie finaal op die bedrag ooreengekom is nie en dat verdere onderhandeling sal volg. Dié bedrag sal die gholfklub vir die onvoltooide gebou vergoed.
Verteenwoordigers van ICOSA en die ANC het kapsie teen die besluit gemaak vanweë die hoë koste, aangesien hulle van mening is dat die fondse beter aangewend kan word.
"Icosa is nie gekant teen die sentrum nie, maar bevraagteken die keuse van die gholfbaan. Wie word hier bevoordeel, ten koste van die armes? Daardie geld kan beter aangewend word," het raadslid Dawid Kamfer aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Hy meen verder dat daar nie vir so 'n bedrag begroot is nie.
Jovan Bruinders van die ANC, wat ook sy bedenkinge namens die party oor die besluit uitgespreek het, is bekommerd oor die feit dat die voorgestelde bedrag nog nie ander oorhoofse koste vir die vestiging van die sentrum insluit nie. "Daar is 'n huurbedrag ter sprake. Waarom kan 'n ander gemeenskap of sportfasiliteit nie hieruit voordeel trek nie? Soos byvoorbeeld die D'Almeida-stadion, waar die plaaslike Barbarians-rugbyklub uit die huurooreenkoms voordeel kan trek?"
By navraag, het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê dat daar uit die aansuiweringsbegroting voorsiening gemaak word vir die beraamde bedrag. "Daar word dus wel behoorlik daarvoor begroot," sê munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
Pro-aktief
Mosselbaai-munisipaliteit ondersoek reeds 'n geruime tyd die behoefte aan 'n gesamentlike beheersentrum, oftewel 'n Joint Operations Centre (JOC) waar
verteenwoordigers van die munisipale brand-, redding- en rampbestuur, die munisipale wetstoepassingseenheid, die provinsiale verkeersdienste, die munisipale kommunikasie en oproepsentrum, asook die gemeenskapspolisieforum (GPF) en geakkrediteerde buurtwaggroepe binne die groter Mosselbaai op geïntegreerde wyse toegang tot bestuursinligting kan hê.
Aangesien die nasionale regering faal om sy verantwoordelikheid ten opsigte van gemeenskapsveiligheid na te kom, moes provinsies en plaaslike owerhede ingryp.
Met die oog op ekonomiese groei en beleggingsgeleenthede, is veiligheid 'n kernelement waarop potensiële beleggers en groot werkskeppers let. Die munisipaliteit se inisiatiewe om veiligheid te bevorder, is in pas met die Wes-Kaapse provinsiale regering se verbintenis, by monde van die Premier, Alan Winde om veiligheid in die provinsie te verbeter. Gesamentlike beheersentrums word reeds effektief in onder meer Stad Kaapstad ingespan.
Ligging
Volgens beplanning, sal die munisipaliteit se rekenaar-rugsteunbediener by die gesamentlike beheersentrum gehuisves kan word. Volgens die munisipaliteit, het die ouditeur-generaal dit as 'n risiko uitgewys dat die rugsteunbediener nie in 'n meer hoogliggende gebou gehuisves word nie.
Omdat effektiewe ramp- en risikobestuur juis van goeie radio-kommunikasie afhanklik is, is die ligging van die beheersentrum kernbelangrik. Die perseel wat geoormerk is, is hoog geleë, selfs hoër as die huidige brandweerstasie, en dus uniek geskik vir dié doel.
Jovan Bruinders van die ANC het voorbehoude oor die sogenaamde ideale ligging van die beplande gesamentlike beheersentrum. "Ons neem kennis van die ideale ligging, maar daar is geen ander opsies voorgelê ter vergelyking nie."
Dawid Kamfer van Icosa het die vraag gestel waarom die bestaande fasiliteite by die brandweer nie eerder opgegradeer kan word om die gesamentlike beheersentrum te huisves nie.
Volgens die munisipaliteit is eienaarskap van die perseel waar die huidige brandweerstasie is, nog nie opgelos nie.
"Die perseel is tans geregistreer in die naam van die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Mosselbaai-munisipaliteit word volgens wetgewing nie toegelaat om enige verbeterings aan te bring aan eiendom wat nie aan die munisipaliteit behoort nie," sê munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
Die gesamentlike beheersentrum sal onder meer die munisipaliteit se telemetriestelsel baie effektief kan gebruik om beskikbare munisipale voertuie te kan ontplooi omdat dit deurentyd gemonitor sal word.
Die beheersentrum sal die onderskeie kameras in die dorp koördineer sodat pro-aktief op 'n veiligheidsituasie reageer kan word.
"Die perseel by die gholfbaan is ideaal geskik, ook in ag genome ander prioriteite soos parkering, sekuriteit en dies meer. Die alternatief sou wees om addisionele kantoorspasie óf van nuuts af op te rig, óf ten duurste te huur," meen Le Roux.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'