MOSSELBAAI NUUS - Drie mans, voorheen verdagtes in die moord op 'n vrou van Sonskynvallei in Augustus 2013, sal eerdaags in die hof moet verduidelik wat hulle rol in Theresa (Tess) Vister se dood was.
Die 43-jarige Vister se lyk is op Saterdag, 3 Augustus, onder 'n bed in 'n woning in Sonskynvallei ontdek. Soos destyds berig, is Vister op Donderdagaand, 1 Augustus 2013 laas lewend in Sonskynvallei gesien.
Haar liggaam is na bewering die Saterdag ontdek toe die 15-jarige seun van die huiseienaar na 'n paar tekkies onder 'n bed gesoek het.
Vister is vermoedelik ernstig aangerand en het 'n steekwond aan die nek gehad. Daar was ook tekens van poging tot verkragting.
Drie verdagte mans is destyds vir ondervraging geneem in verband met Vister se dood, maar is hangende die uitslag van DNS-toetse en verdere verklarings vrygelaat.
Vanweë verskeie personeelverskuiwings, is die moorddossier deur verskeie ondersoekbeamptes hanteer met die gevolg dat heelwat tyd verloop het sedert die misdryf gepleeg is totdat die ondersoek afgehandel kon word.
Die opsporing van getuies was 'n uitdaging en aangesien drankmisbruik in die gegewe woonbuurt algemeen is, was die gebrek aan ooreenstemming van verklarings en getuienis, 'n verdere uitdaging.
Theresa (Tess) Vister.
Uiteindelik is die moorddossier weggestuur vir beslissing, waarna dagvaardigings uitgereik is vir die dieselfde drie verdagte mans wat in 2013 ondervra is, om as beskuldigdes in die hof te verskyn.
Die mans, Eddie Janse (45), sy seun Adrian Whites (19) en nog 'n man, Hans Maart (46), het op 20 April hulle eerste hofverskyning gehad. Hulle was op Dinsdag, 15 Mei weer voor die hof om vir regshulp aansoek te doen.
Die huis in Sonskynvallei waar Theresa (Tess) Vister se liggaam onder 'n bed ontdek is in Augustus 2013. Foto: Cornelle Carstens
Die saak is uitgestel na 5 Junie wanneer die beskuldigdes in die Mosselbaai-streekhof sal verskyn.
Die ondersoekbeampte in die saak is sers Adele Binneman van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'