OUDTSHOORN NUUS - Daar was die afgelope drie weke vier voorvalle van selfdood in Oudtshoorn.
Een persoon het die poging oorleef.
Een van die oorledenes was 'n 13-jarige seun.
Volgens dokter Clifford van Wyk, 'n psigiater op Oudtshoorn, ly persone wat selfdood pleeg, of daaraan dink om dit te doen, aan erge depressie en word dit deur die persoon as die laaste uitweg vir 'n probleem gesien.
"Wanneer mense dié punt bereik waarby selfdood oorweeg of gepoog word, beskik hulle nie meer oor die vermoë om op konstruktiewe maniere te reageer nie.
"Hierdie gaan gepaard met intense gevoelens van hopeloosheid vir die toekoms en hulle sien nie meer sin in die lewe nie. Hulle insig en oordeelsvermoëns in nie meer normaal nie.
"Dit is egter belangrik dat mense moet besef dat die gevoel net tydelik is."
Volgens hom is daar ook nie noodwendig een spesifieke rede waarom mense besluit om selfdood te pleeg nie.
"'n Persoon wat suksesvol is daarin het dit met alle waarskynlik al voorheen probeer. Dit is gewoonlik ook meer as een probleem wat 'n persoon dryf tot die punt wat hy voel hy kan nie verder nie.
"Daar kon probleme uit die persoon se jeug wees wat hy of sy steeds nie verwerk het nie.
"Bykomend tot dit kan daar ook werksdruk, spanning in die huis of selfs finansiële probleme wees wat te veel word."
Die persone wat selfdood oorweeg moet, volgens Van Wyk, onthou dat geen probleem te groot is nie.
"Persone wat selfdood oorweeg moet probeer om met iemand te gesels. As jy voel dit is te persoonlik om met 'n vriend of familielid te praat, praat met jou dominee of huisdokter.
"Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs-groep (Sadag) het tolvrye nommers wat 24 uur van die dag beskikbaar is. Daar is persone wat opgelei is om te help met probleme."
Dit geld ook vir diegene wat weet van iemand wat selfdood oorweeg.
"As jy weet van 'n vriend, familielid of kollega wat gedagtes van selfdood het, is dit in die beste belang om te probeer help.
"Baie kere dink mense die persoon sal dit nie doen nie of dat dit dalk net 'n grappie is, maar die kanse is goed dat die persoon dit al vir 'n geruime tyd oorweeg en die 'grappie' 'n moontlike hulpkreet is.
"Probeer praat met die persoon of ondersteun hom of haar waar jy kan."
Volgens Van Wyk het organisasies ook 'n verpligting teenoor hul werksmense om seker te maak dat hul geestestoestande na wense is.
"Dit gebeur soms dat mense verplaas word na ander takke en dan is hulle weg van hul ondersteuningsraamwerk.
"Baie van die mense sukkel dan om die druk van 'n nuwe werksomgewing en 'n nuwe woonplek te hanteer. Besighede, veral wanneer dit kom by beroepe met hoë spanningsvlakke soos in die onderwys of polisie, moet seker maak dat hul personeel se geestestoestande reg is."
Wanneer dit kom by familie of vriende van die persoon wat selfdood gepleeg het is ondersteuning geweldig belangrik.
"Naby familie of vriende loop gewoonlik met baie selfverwyt binne hulself rond. 'n Sagte woordjie, 'n drukkie of net 'n gunsie wat jy vir iemand doen beteken reeds geweldig baie aan daardie familie of vriende."
Hulplyn
The South African Depression and Anxiety Group (Sadag) het 'n bystandslyn waar mense ondersteuning kan kry. Die nommers is 0800 567 567 of 0800 12 13 14. Hulle het ook 'n Facebook-blad The South African Depression and Anxiety Group.
'n Dokter aan diens by die Oudtshoorn-hospitaal kan ook by 044 203 7200 geskakel word.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'