MOSSELBAAI NUUS - ‘n Bankrekening maak dit vir Sassa-begunstigdes onnodig om op betaaldag tou te staan om hul toelae te ontvang.
Sassa-pensioenarisse en mense wat kindertoelaes ontvang, sal baat vind by ‘n bankrekening, sê Pieter Swart, hoofbestuurder van die Poskantoor in die Wes-Kaap.
Die risiko wat met kontantbetalings gepaard gaan is baie hoog en misdadigers kan baie maklik pensioenarisse teiken wat hul SASSA toelae by kontantbetaalpunte ontvang.
Die Poskantoor raai Sassa-begunstigdes aan om ‘n Mzansi-rekening te open en hul toelae daarin te laat betaal.
Volgens Swart is Postbank se Mzansi-rekening die bekostigbaarste in Suid-Afrika, met ‘n vaste maandelikse diensfooi van slegs R2,50. Alle aankoop transaksies by ‘n handelaar se betaalpunt is gratis.
‘n Bankrekening by die Poskantoor sal begunstigdes ook in staat stel om die rekening as a persoonlike bankrekening te gebruik met al die voordele wat daarmee gepaart gaan.
Onder meer kan begunstigdes ander depositos in die rekening maak en kan veelvuldige onttrekkings gedoen word en hoef hulle nie hul totale toelae op een slag in kontant te trek nie.
“Veral bejaarde mense se kinders help hulle finansieel,” sê Swart. “Dit is veiliger en geriefliker as hulle 'n bydrae direk in ‘n bankrekening kan inbetaal.
"Dit beteken dat bejaardes nie na ‘n geldoordrag-agentskap hoef te gaan nie – hulle kan hulle bankkaart bloot by handelaars se betaalpunte of by alle poskantore landwyd gebruik om geld te trek.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'