OUDTSHOORN NUUS - Baie Suid Afrikaners van alle rasse, woongebiede, geslagte en kulture kan aan depressie en angsverseuring ly. Volgens die Suid-Afrikaanse depressie-en-angsgroep (Sadag) kry die meeste mense wat depressie het, nie behandeling nie.
Een uit 10 mense sal depressie in hul lewens ervaar, die meeste mense kry egter nie die nodige hulp nie. Behandeling kan depressie wegneem of onder beheer bring.
Dikwels soek mense egter nie hulp nie, want depressie word soms nie gesien as 'n regte siekte nie. Mense blameer ook hulself en dink hulle is swak of is te bang en skaam om vir hulp te vra.
Siekte
Depressie is 'n siekte wat die hele liggaam, gemoedstoestand en denke aantas. Dit affekteer eet- en slaappatrone, die manier hoe jy oor jouself voel asook die manier hoe jy oor die wêreld dink. Depressie is nie dieselfde as die gewone alledaagse blues of hartseer wat alle mense partykeer voel nie, dit is nie 'n teken van swakheid nie, en dit kan nie weg gewens word nie.
Mense met depressie kan nie net "hulself regruk" en beter word nie. Sonder behandeling kan simptome vir weke, maande of selfs jare aanhou.
Tekens
Die persoon voel hartseer, die meeste van die tyd. Daar is ook gevoelens van angs en 'n leegheid. Gevoelens van hopeloosheid oor die lewe en skuldgevoelens is algemeen. 'n Depressiewe mens se slaappatrone verander en energievlakke is minder as gewoonlik. Daar bestaan ook gedagtes van selfdood of selfdoodpogings.
Kry hulp
Skakel hierdie nommers vir hulp met depressie. Alternatiewelik maak 'n afspraak by 'n huisdokter en sien 'n psigiater vir medikasie. Volgens Sadag sal agt uit 10 mense wat aan depressie ly en die regte medikasie neem, se toestand verbeter.
- Dr Reddy's Hulplyn 0800 21 22 23
- Adcock Ingram Depressie en angsversteuring hulplyn 0800 70 80 90
- Destiny-hulplyn vir jeugdiges en studente 0800 41 42 43
- Selfdoodkrisishulplyn 0800 567 567
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'