Update
MOSSELBAAI NUUS - Drie van die sewe vermeende renoster-stropers wat die afgelope naweek op Mthatha in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is, word verbind met 'n voorval waar 'n renoster op 2 Mei by die Botlierskop privaat wildreservaat, naby Klein-Brakrivier gestroop is.
Arnold Neethling, eienaar van Botlierskop, het kort na die inhegtenisname van die verdagtes aan die Mossel Bay Advertiser gesê hy is verheug en verlig dat die verdagtes vas is.
"Wat die mooiste van alles vir my is, is hoe die verskillende groepe in die geval saam gewerk het. Almal het saam gewerk, die polisie, die reservate, die publiek en die privaatsektor sodat hierdie verdagtes vasgetrek kon word.
"As dit is hoe ons in hierdie land met hierdie ouens moet werk, dan is dit ons resep."
Boodskap
Neethling sê die boodskap aan voornemende stropers is eenvoudig: "Ons gaan jou nie los nie. Ons sal jou jag tot ons jou kry en ons is nog nie klaar nie."
Polisiewoordvoerder, ao Majola Nkohli, sê die intelligensie-gedrewe operasie het oor twee dae gestrek. Daar is ook beslag gelê op huisbraak-implemente ter waarde van meer as R100 000.
Tydens die eerste voorval die afgelope Saterdag, is vyf verdagtes in 'n silwer Hyundai op die R61 roete in die rigting van Tarkastad, ongeveer 20km buite Komani, opgemerk. Die polisie het die voertuig van die pad getrek en die verdagtes ondervra en deursoek.
Beslag is gelê op huisbraak-implemente en 'n voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die insittendes met die voorval by Botlierskop verbind word.
Ontsnap
Die polisie se ondersoek het 'n taakspan die volgende dag (Sondag) na 'n woning in Mthatha gelei, waar nog twee verdagtes, wat verlede jaar vanuit die Makhanda-korrektiewe fasiliteit ontsnap het, gevind is. Dié twee mans word vermoedelik ook met die Botlierskop-voorval verbind.
Die verdagtes word daarvan verdink dat hulle by verskeie gevalle van renosterstropery in die Oos- en Wes-Kaap betrokke was en 'n groot getal renosters binne slegs 'n paar maande gestroop het.
Die mans bly in aanhouding en 'n hofdatum vir hulle volgende verskyning was met die ter perse gaan, nog nie bekend nie.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’