MOSSELBAAI NUUS - Vermeende renosterstropers het die afgelope week daarin geslaag om deur 'n padblokkade in George te ry én om arrestasie ná 'n jaagtog in die Oos-Kaap te ontduik.
'n Onbekende getal verdagtes het boonop die renosterhoring, wat hulle vermoedelik deur die loop van die afgelope Dinsdagnag by die Botlierskop privaat wildreservaat naby Mosselbaai gestroop het, by die voertuig se ruit uitgegooi toe hulle deur 'n padblokkade in George tussen die Garden Route Mall en die Kraaibosch Sasol vulstasie gery het.
FOTOGALERY: Botlierskop privaat wildreservaat se vermeende renosterstropers
Polisiebeamptes het op die horing op die N2 buite George beslag gelê, maar die verdagtes kon daarin slaag om op die vlug te slaan.
Die voertuig is later Woensdag-middag naby Gqeberha van die pad getrek en die bestuurder van die voertuig het weer daarin geslaag om te vlug, dié keer te voet. Dit is nie bekend waar die ander verdagtes tydens dié voorval was nie.
Met die ter perse gaan is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die karkas van die witrenosterkoei is in 'n kloof op dié reservaat ontdek.
Die Eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies van Oudtshoorn ondersoek die voorval.
Volgens die Save The Rhino-organisasie, is altesame 448 renosters in 2022 in Suid-Afrika vir hulle horings doodgemaak en word 'n renoster elke 20 uur in die land gestroop.
Botlierskop is kort nadat 'n renoster gestroop is, tydelik deur die polisie afgesper. Foto: Jannie du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’