Update
MOSSELBAAI NUUS - Sewe vermeende renosterstropers is die afgelope naweek op Mthatha in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.
Drie van die verdagtes word vermoedelik met die voorval by Botlierskop, ‘n privaat wildreservaat naby Klein-Brakrivier, verbind ná ‘n renosterkoei op 2 Mei in die reservaat gestroop is.
Polisiewoordvoerder, ao Majola Nkohli, sê die intelligensie-gedrewe operasie het oor twee dae gestrek. Daar is ook beslag gelê op huisbraakimplemente ter waarde van meer as R100 000.
Tydens die eerste voorval is vyf verdagtes in ‘n silwer Hyundai op Saterdag op die R61 roete in die rigting van Tarkastad, ongeveer 20km buite Komani, opgemerk.
Die polisie het die voertuig van die pad getrek en die verdagtes ondervra en deursoek. Beslag is gelê op huisbraakimplemente en 'n voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die insittendes met die voorval by Botlierskop verbind word.
Op Sondag het die polisie se ondersoek ‘n taakspan na ‘n woning in Mthatha gelei, waar nog twee verdagtes, wat verlede jaar vanuit die Makhanda-korrektiewe fasiliteit ontsnap het, gevind is. Dié twee mans word vermoedelik ook met die Botlierskop-voorval verbind.
Die verdagtes word daarvan verdink dat hulle by verskeie renosterstropery in die Oos- en Wes-Kaap betrokke was. Hulle bly in aanhouding en verskyn op Dinsdag, 23 Mei in die hof. Dit is nog nie bekend in watter hof die verdagtes sal verskyn nie.
Vorige artikel: Horning by voertuig uitgegooi
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’